Die altyd bestendige en talentvolle voormalige Volkie krieketkaptein, Corné Prinsloo, het in sy laaste toernooi as skole krieketspeler vanjaar sy stempel afgedruk.
Vir die Western Legends-span het hy tydens die 2023 Cubs-week in Stellenbosch in Januarie, 210 lopies in vyf wedstryde teen ‘n kolfgemiddeld van 70 en lopitemop van 100 aangeteken. Sodoende was hy die derde hoogste lopiemaker van die toernooi. Hy was ook akkuraat met sy boulwerk en het vyf paaltjies teen ‘n gemiddeld van 26.8 behaal en slegs 5.1 lopies per beurt afgestaan. Hy eindig met beste boulsyfers van 2/35.
Prinsloo word al vir jare as een van Noordwes se top skolespelers gereken en dit het hy beslis met twee puik vyftigtalle bewys.

“Die hoogtepunte was definitief my twee vyftigtalle wat ek geslaan het. Ek het heeltyd in beheer gevoel met wat ek doen en hoe ek wil speel,” noem Prinsloo, wat sy hoogste telling van 85 in die laaste wedstryd van die week aangeteken het.
Hy vertel dat hy juis fokus om elke bal op meriete te speel aangesien hy sodoende die beste presteer voor die paaltjies met die kolf in sy hand.

“Met my boulwerk het ek net gefokus daarop om akkurate lyne en lengtes te boul sodat ek meer ekonomies kan wees,” verduidelik hy.
As Prinsloo terugdink aan sy skolekrieketdae noem hy dat hy veral die Volkie-Gimmies tweestryde sal mis – gelukkig vir hom was hy aan die wenkant in sy laaste wedstryd.
“‘n Deel van my is hartseer oordat ek klaar is met skolekrieket, maar ook opgewonde vir die volgende vlak van krieket. Ek gaan definitief ons Volkie-gimmie wedstryde die meeste mis, dit was altyd opwindend.”
Die volgende vlak beteken dat hy nou klubkrieket vir die Noordwes Universiteit sal speel hierdie jaar. Hy het voorheen ook al blootstelling op klubvlak by Potchefstroom Dorp Krieketklub gehad, maar nou weet hy dat hy uitsluitlik daarop kan fokus om op klubvlak in Noordwes te presteer.

“Ek sal definitief wil kyk om my boulwerk so bietjie te verbeter, ek sal graag klein bietjie vinniger wil boul en meer konstant wil wees,” meen hy.
Buiten sy ideale op die krieketveld gaan hy ook besig agter die boeke wees en sy studies in B.Com Risikobestuur ook vir ‘n ses sal wil slaan.




