Potchefstroom Gimnasium se eerste en o.15A krieketspanne het in hulle Finsburyliga-wedstryde teen Hoërskool Monument van Krugersdorp hulle staal Saterdag, 28 Januarie bewys.
Die eerstespan klop vir Monnas in ‘n wegwedstryd met 43 lopies danksy goeie veggees met kolf en bal. Tommie Botha teken 56 (73) aan met James Wood wat ook 43 (57) maak.
Die derde hoogste puntemaker was bylopies – ‘n yslike 35 lopies waarvan 34 wydlopers was. Monnas word in slegs 28.1 boulbeurte vir 177 uitgeboul.
Marnu Cronjé neem 2/27 in 4 boulbeurte. Ruan Lotz vat 2/31 en Braam Nel kry ook 2/18. Gimmies roteer gereeld hul boulers met 8 boulers wat diens doen om Monnas se kolwers min kans te gee om aan een spesifieke bouler gewoond te raak.
Gimmies se o.15A’s maak vinnige werk op die Gimmie-Oval van die besoekende Monnas-span en klop hulle met 8 paaltjies. Gimmies boul Monument vir 136 uit. Henré Cronje se 2/22 en De Wet Grobler se 3/24 is van die top boulvertonings. Jahndré Coetzee teken 51 lopies aan en De Wet Grobler 52 om die oorwinning vir Gimmies te seël.
Gimmies se eerste span speel op Saterdag, 4 Februarie tuis teen Montana terwyl die o.15A’s weg speel teen dieselfde skool in Pretoria.