Die Luiperds skop komende naweek hulle Curriebeker eerstedivisie veldtog teen die Grens af.
Die wedstryd vind om 15:00 op Olënpark plaas. Toegang vir die wedstryd is gratis. Klerksdorp Rugbyklub en Zeerust sal die voorwedstryd speel.
Die Luipies sal wil munt slaan uit die tuisveld voordeel. Eric Herbert, hoofafrigter van die Luiperds, het hard aan sy troepe gedurende die voorseisoen geslyp. Daar sal na staatmakers, soos HP Swart, Danrich Visagie, Dok Cupido en Tjaart Benade gekyk word vir om ‘n suksesvolle veldtog te verseker.
Nuwelinge soos die April broers gee vir die Luiperds nog skietgoed in die agterlyn. Terwyl die manne wat verlede seisoen nog vir Potch Dorp uitgedraf het, ook ‘n verskil kan maak.
“Dit is ‘n nuwe span, ons het omtrent 13 nuwelinge in die span. So ons is opgewonde om te sien hoe hulle vaar,” het Herbert gesê.
Volgens Herbert het hulle goeie voorseisoen gehad waar hulle baie lesse geleer het.
“Ons het teen moeilike spanne gespeel, twee keer teen die Leeus en een keer teen die Griffons. So ek die outjies weet ook nou wat is druk,” het Herbert gesê.
Ten tyde van publikasie was die spanlys nog nie gefinaliseer nie.
Hierdie sal Herbert se eerste groot toets wees en almal in die provinsie hoop hy slaag met lof.




