Die rekords gaan spat en bloed, sweet en trane sal komende Saterdag, 11 Februarie val tydens die Noordwes Grootskole Interhoër wat by die NWU McArthur Atletiekstadion gaan plaasvind.
Die verdedigende Interhoër kampioen, Potchefstroom Gimnasium, behoort weer die gunsteling te wees met Hoërskool Rustenburg (RHS) wat heel moontlik die grootste kompetisie sal wees op die dag.
Klerksdorp Hoërskool (KHS), Hoërskool Wesvalia, Hoërskool Lichtenburg, Hoër Volkskool Potchefstroom, Potchefstroom Boys High en Potchefstroom Girls High (aanbieders) sal ook wil aanspraak maak op die baan en veld.
Gimmies het tydens die onlangse Gimmies Prestige-byeenkoms en die Tuks Top 10 reeds hulle staal gewys met die o.17 blits, Sihle Mahlangu wat in die 100m uitgeblink het en Sandri van Rooyen, dogters o.17 wat in dieselfde dissipline ook deurgaans haar spoed bewys het.
Suné Greeff (400m en 400m hekkies), Ilané Herbst (800m), Jamoré Olivier (gewigstoot) en Richter van der Merwe (diskus) is ook van Gimmies se atlete wat belangrike punte vir hulle skool kan behaal.
RHS se uitblinkers sluit in Mianke van der Merwe (400m hekkies), Jessica van Heerden (200m en 400m) en Xander Benedetti (gewigstoot).
Ander atlete om beslis ‘n oog op te hou gedurende die interhoër is Carli Visser (Wesvalia – o.15 300m hekkies), Lee-Ann Marx (Wesvalia – o.19 400m hekkies), sowel as Luzé van Zyl (Wesvalia – o.16 diskus). Volkskool se Lea Verster (o.16 300m hekkies), Asher Swarts (o.19 100m) en Marizelle Meintjies (dogters o.17 stap) sal ook groot aanspraakmakers op goud wees.
Program:

Buiten die atletiek op die dag, sal daar ook natuurlik baie gees op die pawiljoen wees met skole wat krete gaan skree en die dag op ‘n luidrugtige noot om 07:00 sal begin. Die atletiekaksie begin om 08:00. Hamergooi en stap vind al vanaf 06:00 die oggend plaas.
Kaartjies kos R70 per volwassene en hoërskoolleerders sonder skoolklere. Dit is R20 vir ‘n laerskoolleerder. Geen kaartjies sal op die dag by die ingang verkoop word nie.
Kaartjies is slegs aanlyn beskikbaar by https://itickets.co.za/ events/472024






