Die Noordwes Platinum Interhoër wat op Donderdag, 9 Februarie by die NWU McArthur Atletiekstadion plaasgevind het, was ‘n viering van top atletiek.
Hoërskool Wolmaransstad is die algehele wenners van die Platinum Interhoër aangewys met 888.5 punte. Hoërskool Schoonspruit is tweede met 669.5 punte terwyl Hoërskool Ferdinand Postma die derde plek met 614 punte beklee.
Ferdies en HTS Potchefstroom (sewende met 393 punte) het Potchefstroom op die dag teen ander Noordwes skole verteenwoordig.
Ferdies se Karl Engels is as die Junior Victor Ludorum aangewys. Engels het die rekord in die seuns o.15 100 meter gebreek in ‘n tyd van 11.94 sekondes. Hy het ook ‘n derde plek in die seuns gewigstoot verower met ‘n afstand van 11.80 meter.
Ferdies se beste baanatleet, Kaone Snaar het die rekord in die dogters o.19 400 meter verpletter met ‘n tyd van 56.44. Dit was nege sekondes vinniger as die vorige rekord van 1:05.18. Snaar behaal twee 2de plekke in die 100 meter hekkies (19.15 sekondes) en hoogspring (1.40 meter).
Chrisna Stemmett (Hoërskool Wolmaransstad) is as die senior victrix ludorum aangewys met drie eerste plekke in 100m, 200m en 400m. Es-Leigh Grundling (Hoërskool Wolmaransstad) is die junior victrix ludorum vir haar uitstekende goue medaljes in die 100m, 200m en 400m.
Spier van Zyl (Hoërskool Wolmaransstad) is as die senior victor ludorum aangewys vir drie eerste plekke in gewigstoot, spiesgooi en diskus.
Danel Meintjies het ook die dogters o.17 spiesgooi-item ‘n nuwe rekord behaal met ‘n afstand van 35.69 meter.
Rhodes Schultz (seuns o.16 3000m) het ook ‘n nuwe rekord met ‘n tyd van 11:51:12 behaal.
HTS Potch se Kananelo Kobue (dogters o.16 100m), Gontse Thubaki (seuns o.15 400m), Nhlanhla Mqokolo (seuns o.16 hoogspring), Mohau Modise (seuns o.15 verspring), Sizwe Mboniswa (seuns o.16 verspring) en Tshotang Mofammere (dogters o.17 verspring) het almal met eerste plekke vir hulle skool uitgeblink.









