Dit is nou soos die Engelse sê die ‘business end’ van die Varsitybeker kompetisie. NWU en Maties gaan Maandag,
10 April op die Fanie du Toit Sportgronde vir ‘n plek in die Varsitybeker eindstryd spook.
Maties is die enigste span wat die NWU tot dusver kon klop.
“Die wedstryd teen Maties gaan enorm wees. Hopelik het ons ons lesse geleer in ons vorige ontmoeting met hulle. Ons het baie strafskoppe afgestaan, verder gaan ons net doen wat ons doen. Die oefening is dieselfde, ons fokus bietjie meer op klein goedjies, maar die belangrikste is dat ons klinies moet wees,” het Burger van der Westhuizen, hoofafrigter van die NWU, gesê.
Volgens hom weet hy dat Matt Proudfoot se manne baie goed voorbereid vir die wedstryd gaan wees.
“Dit is nou uitkloprondtes, wat in die eerste wedstryd tussen ons gebeur het beteken niks meer nie. Die NWU het die tuisveld voordeel, hulle het die momentum al die druk is op hulle, ons het niks om te verloor nie,” het Matt Proudfoot, hoofafrigter van die Maties gesê.
Volgens Proudfoot gaan die manne van Stellenbosch mik om sterk te begin en druk te bou deur vroeg punte op die bord te sit.
“Ons weet hulle gaan goed voorbereid wees, hulle het uitstekende afrigters veral in Chaka Willemse by die voorspelers en Jean Tiedt wat die verdediging doen. Dit is seker die twee sterkste aspekte van die NWU, hulle groot sterk pak voorspelers en hulle verdediging,” het Proudfoot verduidelik.
Om nou teen die Maroen Masjien, die enigste span wat die teen die NWU kon wen, op tuisbodem te speel, is ‘n nuwe uitdaging.
“Ons weet wat ons sterkpunte nou is en weet waaraan ons moet werk, so dit gaan ‘n baie lekker wedstryd wees as ons by die plan kan hou,” het Sampie Swiegers, kaptein van die NWU gesê.
Volgens Swiegers is dit die hele span se doelwit om in die eindstryd te speel. “Ons harde werk begin werklik nou eers. Dit is 80 minute se bloed en sweet wat voorlê en die manne is reg daarvoor,” het Swiegers gesê. Die wedstryd tussen NWU en Maties skop om 19:00 op die Fanie af. Dit word ook regstreeks op Supersport uitgesaai



