Goeie ervaringe is gebou en talent die kans gegun om te groei tydens Hoër Volkskool Potchefstroom se deelname aan die Vossie Krieketweek in Tzaneen vanaf 3-7 Julie.
Hoërskool Ben Vorster was die gasheer met ‘n o.18 en o.15 toernooi wat terselfdertyd plaasgevind het. Volkies se o.15B-span en hulle tweede span het aan hierdie week deelgeneem.
Volkies se o.15B-span is beslis vol talent met Jonathan Vermaak wat as die bouler van hierdie toernooi gekroon is met ‘n totaal van 11 paaltjies agter sy naam. Al wen Volkies se o.15B nie ‘n enkele wedstryd tydens die week nie, kon dit net sowel anders geëindig het met ‘n paar naelskraap nederlae veral teen Garsfontein, waar hul met slegs 4 lopies verloor het.

Volkies se tweedespan val vas met slegs 1 paaltjie teen Waterkloof se o.15A-span in die eerste wedstryd. Eduan van der Merwe neem 4/36 in 10 beurte.
Volkies se tweedespan buig ook die knie teen Ben Vorster se eerste krieketspan met 84 lopies. Hier skitter Van der Merwe weer met 4/44 vir die Potchefstromers.
Twee nederlae teen Wesvalia en Lichtenburg se eerste spanne is nog ‘n leerskool vir Volkies se tweede span.
Hul eindig die week met ‘n oortuigende 52-lopie oorwinning teen Pretoria-Noord se eerste span.
“Ons wil spelers soveel as moontlik kans gee om wedstryde te speel. Dit was lekker om ons o.15B’s en tweedespan op ‘n toer te kon stuur. Om wedstryde te speel is hoe mens ontwikkel,” noem Volkies se eerstespan afrigter, Wynand Schmitt.
Hier is die volledige uitslae (Tweedespan:)
Volkies vs Waterkloof o.15A
Volkies kolf eerste en teken 179/10 aan. Themba Sontjane teken 61 lopies aan.
Waterkloof teken 180/9 aan en Volkies verloor dus met 1 paaltjie. Eduan van der Merwe neem 4/36 in 10 beurte.
Volkies vs Ben Vorster se 1ste span (50 beurte):
Ben Vorster kolf eerste en teken 225/10 aan. Eduan van der Merwe neem 4/44
Volkies 141/10 in 28.2 beurte en verloor met 84 lopies.
Volkies vs Lichtenburg se 1ste span
Volkies wen die loot en kolf eerste
Volkies teken 126 aan in 33 beurte almal uit
Lichtenburg teken 129/1 aan in 17 beurte
Lichtenburg wen met 9 paaltjies
Volkies vs Wesvalia se 1ste span:
Volkies boul eerste en beperk Wesvalia vir 288/4 in die 50 toegelate beurte.
Volkies behaal 180/10 in 48 beurte en verloor ongelukkig met 108 lopies.
JM Visser 54 (87)
Volkies vs Pretoria-Noord se 1ste span (T20)
Volkies kolf eerste en teken 191/6 in die toegelate 20 beurte aan.
JM Visser 77(56).
Pretoria-Noord word beperk tot 139/8 in die toegelate 20 beurte en Volkies wen met 52 lopies
o.15B uitslae:
Volkies vs Garsfontein –
Garsfontein kolf eerste en teken 153/10 aan.
Jonathan Vermaak neem 4/13 in 3.5 beurte
Volkies teken 149/10 aan.
Volkies verloor met 4 lopies
Volkies o.15B vs Ben Vorster o.15A
Volkies kolf eerste
Volkies 120/10 in 32.4 beurte
Ben Vorster 121/6 in 23.1 beurte
Waldo Kok 3/24 in 5.1 beurte
Ben Vorster wen met 4 paaltjies.
Volkies o.15B vs Midstream 0.15A (20 beurte):
Midstream kolf eerste en teken 133/6 in die toegelate 20 beurte aan.
Volkies word beperk tot 79/8 in die toegelate 20 beurte en verloor met 54 lopies.
Volkies o.15B teen Zwartkop o.15 A
Volkies kolf 1ste en word uitgeboul vir 117.
Zwartkop behaal die teiken in 22 beurte en wen met 5 paaltjies. Jonathan Vermaak neem 3/31 met die bal.
Volkies 0/15B teen Garsfontein (T20)
Volkies kolf eerste en teken 105/7 in die toegelate 20 beurte aan.
Garsfontein wen met 7 paaltjies.





