SportSport

Keimoes se koelkop-vleuel skitter in NWU-trui

Dié vleuel doen wat alle drieëvrate doen. Hy trek sy ore plat, hou sy lyf vlakhaas en laat verdedigers lug gryp op pad doellyn toe.

Dit was so hittete of sy swaneduik het veroorsaak dat sy vlerke geknip word. Hy lag nou nog so half skaam wanneer hy daaraan terugdink.

Dit was Maandag, 27 Februarie in Potchefstroom tydens die Varsitybeker. Die Noordwes-Universiteit (NWU) Eagles het met Shimlas kragte gemeet op die Fanie du Toit-sportterrein, in wat uiteindelik in ‘n 63-16 drag slae teen die besoekers van Bloem sou uitloop.

Net voor halftyd loop die bal die lyn af en beland in Naiden Jaarts se gretige hande.

Dié vleuel doen wat alle drieëvrate doen. Hy trek sy ore plat, hou sy lyf vlakhaas en laat verdedigers lug gryp op pad doellyn toe. Hy kom maklik genoeg oor die kalkstreep, maar remme aanslaan vir hierdie sneltrein kom nie so maklik nie en toe hy duik, duik hy so amper bo-oor die doodlyn.

Die drie word toegeken, die telling is 30-9, maar daar word mooi vir hom vinger geswaai en getug dat hy in die toekoms eerder die bal moet plant as om soos ‘n padda te spring.

Naiden Jaarts staan trots met die 2023 Varsitybeker.

Nou skater die 22-jarige lekker.

“Ek het bietjie moeilikheid daaroor gekry. Oom Mervyn Taylor, bestuurder van die NWU Rugbyinstituut het vir my gesê volgende keer sit ek die bal neer. Dit was baie naby!”

Naiden is in Keimoes in die hart van die Noord-Kaap gebore. Keimoes, wat so warm soos die hel en so mooi soos die hemel is. Smaraggroen druiwepriële staan in sterk kontras met die droë, dorre vlaktes waar die Oranjerivier nie vloei nie. Dáár waar selfs die duiwel vir die son wegkruip. Van daar af is hy Hoërskool Upington toe, toe Potch. ‘n Uitvoerproduk soos die sultanas waarvoor sy kontrei so bekend is.

Want, by Hoërskool Upington vang hy die oog van afrigter Theuns Kotzé, beter bekend as ‘Worsie’ tydens sy speeldae by die NWU Rugbyinstituut – en dié kontak sy alma mater se gesiene talentkenner, Hannes Esterhuizen. Kotzé het immers vir Namibië se nasionale span uitgedraf en weet ‘n ding of twee van rugby. Esterhuizen ken drie of vier en het reeds Naiden op sy radar nadat hy hom in 2018 tydens ‘n seweskompetisie raakgesien het.

Naiden Jaarts staan trots met die 2023 Varsitybeker.

Net ‘n paar jaar later en Naiden vorm deel van die NWU Eagles se formidabele agterlyn wat die Varsitybeker-kroon ingepalm het.

“As ‘n span het ons al ‘n rukkie saamgekom en ons het mekaar se swak- en sterkpunte geken. Coach Burger het ons ondersteun, en ons wou dieselfde vir hom teruggee,” vertel hy.

En nie hoe nie: Die Eagles klop Ikeys 27-25 in ‘n drukkoker-eindstryd wat sop van selfs die taaiste groente sou maak.

“Tydens die eindstryd was ons rustig, ons het die dag ingeneem. Ons het geweet wat wag, ons het geweet Ikeys sal nie gaan lê nie. Dit was ‘n groot prestasie en ‘n eer om hulle te kon wen.”

Koelkop gebly, dit is wat hulle gedoen het. Hy wat Naiden is moes deur sy vertoningsbeloftes nakom: “Ek is ‘n talent gegee en ek is geseën om dit te kan uitleef.”

Dankie sê: “Ek skuld my ouers (Nico en Rose) so baie. As dit moeilik gegaan het, het hulle my altyd bygestaan. Dan is daar ook my niggie (Nakitta) hier in Potch. As ek bietjie sukkel kan ek altyd by haar afpak.”

Wil hy iets byvoeg?

“Nee Oom,” sê hy. “Ek is rustig.”

Koelkop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button