Dit was vir die Potchefstroomse tweekamp-atleet, Mariette Hitge, ‘n groot verrassing toe sy gekies is vir die SA 2023 wêreld driekamp Powerman kampioenskappe in Zofingen, Switzerland op 3 September.
Wat haar prestasie juis besonders maak is dat sy ten spyte van ‘n lang siekte en informele oefenprogram haar land sou kon verteenwoordig.
Hitge het wel besluit om nie deel te neem nie, aangesien internasionale kompetisie te straf vir haar sou wees, siende dat sy nie die sport voltyds kan beoefen nie.
“Dit is my regtig ‘n groot hoogtepunt om gekies te kon word. As ek sou deelneem, sou ek in die ouderdomsgroep 50-54 vroue in die tweekamp deelneem. Die afstande is 10 km hardloop, 150 km fietsry en 30 km hardloop. Hoewel ek bly is dat ek gekies is om daar deel te neem, gaan ek nie deelneem nie. Ek geniet dit baie om tot op nasionale vlak aan tweekamp en driekamp deel te neem, maar internasionaal lê op ‘n heeltemal ander vlak,” meen sy.
Foto’s: Cornelia Hitge
Hierdie senior dosent in wiskunde aan die NWU sien tweekamp/driekamp juis as ‘n manier om te ontspan en die buitelug te kan geniet.
“Die afstande wat ons op nasionale vlak doen vir lang afstand is 15-30 km hardloop, 60-80 km fietsry en 5-10 km hardloop. Ek swem, hardloop en ry fiets vir ontspanning en volg geen formele oefenprogram nie. Deelname op nasionale vlak lê binne my informele oefenprogram bereik,” verduidelik sy.
Hitge noem dat sy nog altyd aktief was op skool en as student en aan verskeie wedlope deelgeneem het, maar dat die gogga haar eers gebyt het toe een van haar kollegas, Dawie Janse van Rensburg, haar aan die verskeie ligas blootgestel het.
“Op hoërskool het ons kinders landloop gedoen. Ek het ook begin deelneem en betrokke geraak by die afrigting van Hoërskool Ferdinand Postma se landloopspan. Dawie het my uitgenooi om aan die provinsie se Noordwes Triathlon ligas vir triathlon en duathlon deel te neem omdat ek gereeld swem, hardloop en fietsry. Ons gesin het dit probeer en dit baie geniet. Daarna het ons meer en meer kere deelgeneem. Ons het ook later op nasionale vlak begin deelneem. Ons is nou min of meer drie jaar betrokke by die sport,” noem sy opgewonde.
Sukses ten opsigte van medaljes en nasionale deelname het eers on langs vir haar gerealiseer – ‘n bewys dat mens nooit te laat kan begin nie.
“Ek was op skool nooit ‘n uitblinker in sport nie. Die eerste keer toe ek gekies is om ons provinsie op nasionale vlak te gaan teenwoordig in 2019 vir die Triathlon Sprint kampioenskappe, was my hoogtepunt. Net om elke keer te kan deelneem, bly vir my ‘n hoogtepunt. Enige iets meer as dit, is ‘n bonus. Om onder die eerste drie te eindig, is altyd ekstra spesiaal en wanneer daar ander pryse is, maak dit dit nog lekkerder,” meen sy.
Nog ‘n motivering vir Hitge is om aktief te wees en in die proses ook die lewe voluit aan te pak en haarself uit te daag.
“Om in die dam te gaan swem, met my fiets uit te ry Koepel toe of sommer net ‘n end te gaan hardloop, is vir my altyd ‘n aangename ervaring. Soms maak die weer dit ‘n uitdaging, veral die wind wanneer dit groot golwe op die dam maak of jy op jou fiets moet beur teen die wind stadiger as wat jy gewoonlik kan hardloop. Maar dan is daar weer die dae wanneer die dam spieëlglad is, die afdraandes windaf is, en jy teen 50 km/uur op jou fiets oor die aarde kan gly, die koel namiddae, en daar ‘n steenbok voor jou oor die pad hardloop,” vertel sy.
Vir Hitge is elke byeenkoms doodeenvoudig ‘n massiewe geleentheid wat sy aangryp. ‘n Kans om jouself te toets en ook iets te doen wat jy en die mense rondom jou geniet. Sy eindig af dat driekamp juis ‘n sport is vir iemand wat aktief in verskeie dissiplines wil wees.
“Wees lief vir swem, fietsry en hardloop, dan kan jy driekamp doen of as jy lief is vir hardloop en fietsry dan kan jy tweekamp doen. Wanneer jy besluit om te begin, moenie duur toerusting koop nie. Gebruik wat jy het of leen,” meen sy.
Die Noordwes Triathlon-provinsie bied geleenthede vir beginners. Indien jy daaraan dink om dit te probeer, kontak Yolanda Kruger by 082 787 5496.













