Daar is min twyfel dat sy dit kon doen. Skrap dit, minder as min, maar meer as geen. Liezel Gouws sê sy sou miskien nie op die podium geëindig het tydens die verspring-geleentheid by die onlangse Wêreld Para-Atletiekkampioenskappe in Parys, Frankryk nie, maar ʼn top posisie was haar gewis beskore.
“Ek het onlangs met verspring begin, maar kon ongelukkig nie in Parys daaraan deelneem nie. Ek glo wel ek sou onder die top vier kon eindig,” vertel die 25-jarige student van die Noordwes-Universiteit.
Die welbekende, Shaun Bownes, is haar afrigter.
Sy het wel uitgeblink in die items waaraan sy deelgeneem het, met vyfde posisie in die 400m (T37-kategorie) en ʼn sewende posisie tydens die finaal van die 100m, ook T37-kategorie.
“Ek het tydens al twee items seisoenbeste tye gehardloop.”
Dit is Dinsdagoggend 17 Julie en sy skarrel nog rond daar doer in die buiteland.
“Ons vlieg vandag terug, dinge is ‘n bietjie rof op die oomblik,” sê sy, maar praat vol genot oor haar ervaring van 8 tot 17 Julie in die wêreld se romantiese hoofstad.

“In die algeheel was dit baie lekker. Ek het hierdie Wêreldkampioenskappe ingegaan om rêrig net elke oomblik in te neem en my vermoeë om te kan hardloop uit te leef. Om die beste van elke geleentheid te maak. Om dit vir die Here te doen en dit saam met Hom te doen. My ander doelwit was om die ervaring te geniet, en dit het ek reggekry.”

Nou is sy terug in die land en haar visier is ingestel om in Augustus 2024 terug te keer Parys toe, hierdie keer met ʼn nuwe, vlymskerp pyl in haar atletiek-koker:
“Ek is baie opgewonde vir hierdie nuwe verspring-uitdaging wat wag en ek sien uit daarna om te begin voorberei vir volgende jaar se Paralimpiese Spele.”



