Die plaaslike SA tennistalent, Jahnie van Zyl (14) wys haar vernuf op die kleibane van Blois, Frankryk met ‘n sege in die Toirnoi Loire Vallee o.16 kategorie in die dogters enkelspel.
Sy klop vir Hanne Estrada Cortes van Meksiko met 6-4, 6-3 in die eindstryd vandag (Sondag, 23 Julie).
Kyk die video hier:
Van Zyl, wat deel van Riaan Venter Tennisakademie onder Riaan Venter is, is tans in Frankryk as deel van die Grand Slam Tennis Ontwikkelingsprogram saam met van die top tennisspelers in haar ouderdomsgroep. Sy het sover nog net een wedstryd teen die 9de gekeurde Yesung Choo van Korea met 6-4 5-7 2-6 verloor. Dit was ook in die eerste toernooi van haar oorsese ervaring by die Open Stade Francais in Parys, Frankryk.
Sy kry toe ‘n tweede geleentheid toe in die “back draw” en wen in die finaal om momentum te bou. Die finaal word by Roland Garros gespeel, wat ‘n groot belewenis vir hierdie jong tennisster was.
“Om teen al die nuwe mense van verskilende lande oor die wêreld te kan speel en te leer is vir my baie lekker. Ook om self op Roland Garros te speel was ‘n groot ervaring,” verduidelik van Zyl, vanuit Frankryk.
“Vandat ek hier aangekom het, het ek probeer leer by die anders spelers wat hulle doen en so probeer my tennis verbeter. Na die wedstryd wat ek verloor het, het ek net gefokus om die goed waarmee ek sukkel te verbeter,” sê hierdie Potch Gimmie-leerder verder.
Volgens haar is die toernooie baie professioneel met die spelers wat ook spesiale behandeling kry.
“In die finaal van die Toirnoi Loire Vale is die spelers wat in die finaal speel, elkeen in sy eie voertuig baan toe gery en soos ‘n eregas ontvang.”
Sy gaan nog aan ‘n paar toernooie in Frankryk deelneem voordat sy ook in Duitsland en België gaan speel.








