Die NWU Arende het gisteraand, voor hulle tuisskare absoluut chaos onder die CUT gesaai.
Die Potchefstromers het hulle finale kragmeting, met 117 – 19 teen die Bloemfonteiners gewen. Tog, soos sport is, was dit nie genoeg om vir hulle ‘n plek in die halfeindstryd van dié kompetisie te verseker nie. Shimlas het teen alle verwagting met ‘n bonuspunt oorwinning oor Tuks koning gekraai. Dié oorwinning het die NWU met slegs een punt kort van ‘n plek in die top vier gelaat.
Om te sê die Arende het met ‘n knal klaar gemaak is ‘n onderbeklemtoning. Die Potchefstromers het hulle laaste wedstryd met ‘n magtige kernkragontploffing klaar gemaak.
Luan van der Walt het ‘n driekuns ingeryg terwyl Naiden Jaarts, Tian Van Zyl, Chyle Van Zyl en Mathew Fortuin almal twee keer onder die pale gaan kuier het. Ntobeko Shezi, Indiphile Tyeda, Guhan du Bois, Sean Roulston en Sanele Zungu het ook elk ‘n drie by die totaal bygedra.
Volgens Burger van der Westhuizen, hoofafrigter van die NWU, was dit ‘n veldtog van fyn marges, wat teen die einde getel het.
“Een duikslag wat nie gemaak is nie, ‘n ondeskep drie, ‘n swak beslissing verander ‘n seisoen. Ek is steeds baie trots op die manne, hulle het aanhou veg,” het van der Westhuizen gesê.
Shimlas gaan nou die Maroenmasjien op die Danie Craven stadion aandurf terwyl Tuks vir Ikeys na Pretoria verwelkom vir die twee halfeindstryde wat Maandag, 7 April afskop.
Aan die onderkant van die punteleer gaan Wits volgende jaar Varsityskild rugby speel terwyl UJ ‘n uitspeelwedstryd teen die MAdibaz moet wen om hulle plek in die Varsitybeker te behou.



