
Potch Dorp Rugby klub gaan Saterdag, 3 Mei, teen Impala om derde plek in die PVR uitdaag beker meeding.
‘n Derde plek in dié kompetisie sal vir die Potchefstromers baie momentum gee, wanneer hulle in die Neser liga ingaan. ‘n Neserliga wen is ook beslis een van Dorp se doelwitte vir die seisoen.
Volgens Henry Stewart, hoofafrigter van Dorp, het hulle waardevolle lesse geleer gedurende verlede jaar se kragmeting met Impala.
“Ons het in 2024 daar by hulle in ‘n wedstryd voorgeloop met 20 punte en toe kom hulle terug in die wedstryd en ons verloor toe net net. Die lesse is geleer daardie dag …begin goed maar hou aan werk en hou beheer van die bal. Ons het nog altyd respek gehad vir Impala. Jy kan hulle nooit onderskat nie. Ons het hard gewerk aan ons algemene en ondersteunende spel om seker te maak ons kan die fases opsit en goeie bal terug kry en gebruik,” het Stewart gesê.
Stewart is gekenmerk deur sy fokus op verdediging, hy sal verseker dat sy troepe klinies en akkuraat op die verdediging moet wees.
“Die spelers sien uit om speel en ek weet hulle is reg vir die uitdaging. Die 2de span het self baie verbeter sedert 2024 en hulle speel goeie rugby. Hulle was bietjie ongelukkig gewees teen Leeutjies maar ons het ook weer gekyk na waar die leemtes was en dit het neergekom op besluitneming. Die 2des speel teen Lichtenburg 1 en dit gaan ‘n lekker harde wedstryd wees. Ek hou van die gees en “attitude” waarmee die 2des speel en oefen en ek weet hulle sal hulle man kan staan. Beide die 1ste en 2de span gaan sonder ‘n paar staatmakers moet klaarkom maar dit gee ander spelers weer geleentheid en gaan ons karakter gaan getoets word,” het hy gesê.
Die wedstryd tussen Potch Dorp en Impala skop om 13:30 op Potch Dorp se velde af.



