Volkies se o.16-netbalspan blink by SA-kampioenskappe uit
Volkies se o.16-netbalspan het hul stempel afgedruk by die nasionale kampioenskappe in Boksburg en bewys hulle is onder die beste spanne in Suid-Afrika.
Volkies se o.16-netbaldogters het onlangs aan die Suid-Afrikaanse skolekampioenskappe by Hoërskool EG Jansen in Boksburg deelgeneem.
Hierdie toernooi is ‘n hoogtepunt op die nasionale sportkalender en trek van die land se beste jeugspelers.
Op die eerste dag van die toernooi het die span uitstekende spel gelewer en drie van hul vier wedstryde gewen. Dié prestasie het vir hulle ’n plek in die Top 16-spanne in die land besorg.
In die uitspeelrondes het Volkies vasgebyt teen Hoër Meisieskool Bloemhof in ‘n spanningsvolle wedstryd, maar moes hulle ongelukkig die knie buig met ’n naelskraapse nederlaag. Nietemin het die span met trots hul plek in die top 13 in Suid-Afrika vir o.16-netbalspanne verseker.
“Baie geluk aan elke speler en afrigter met hierdie skitterende prestasie. Julle deursettingsvermoë, toewyding en harde werk deur die seisoen het vrugte afgewerp – Volkies is trots op julle,” het die skool oor die prestasie gesê.



