Die jaarlikse Jansen Gimmiefees het van 4 tot 7 Oktober op Potchefstroom Gimnasium se velde afgeskop en die dorp in ’n krieket-feesviering verander. Gimnasium het weereens die grootste 50-beurt witbaltoernooi in die land aangebied, met 19 van regoor Suid-Afrika wat teen mekaar kragte gemeet het in dié prestigeryke byeenkoms.
Onder die skole was Wesvalia, Klerksdorp Hoërskool, Helpmekaar, Kempton Park, Hans Moore, Stellenberg, Rondebosch, Steyn City, Westville, Boland Landbou, Hoërskool Monument, Trio, King Edward’s School, Durbanville, EG Jansen, Affies, Northwood en Rustenburg.
Die gasheerskool het ’n uitsonderlike toernooi beleef en elke wedstryd met styl en spanwerk gewen. In hul openingswedstryd teen Boland Landbou is die besoekers vir 115 in 27 beurte uitgeboender, met Bennet Keet wat 4 paaltjies vir 25 lopies geneem het. Gimmies het die teiken bereik op 117/7 in 31.4 beurte met Ulrich Botha wat 45 lopies bygedra het.
Teen Rondebosch was dit Caiden Seleka wat met ’n vyfpaaltjie-bonanza (5/27) die Kaapse span vir 111 laat tou opgooi het. Botha het weer sy klas gewys met 51* lopies en Gimmies het gemaklik met 7 paaltjies gewen.
Northwood kon ook nie die tuisspan stuit nie en is vir 116 uitgeboul. Adriaan van Niekerk (2/8) en Tlhoni Thabatha (2/9) het die boulwerk gedra, terwyl Botha met 58 lopies Gimmies met ’n 4-paaltjie oorwinning oor die wenstreep gelei het.
In een van hul taaiste wedstryde teen Stellenberg het Gimmies 182/9 in hul 50 beurte aangeteken, met Divan van Eldik (37) en Henré Cronje (35) wat die grootste bydrae gemaak het. Stellenberg het sterk teruggeveg, maar Thabatha (4/14) en Seleka (3/20) het die besoekers vir 173 beperk en Gimmies het met 9 lopies seëvier.
Die gasheerspan het hul toernooi op ’n hoë noot afgesluit teen Helpmekaar met ’n indrukwekkende 272/6. Christivan Coetzer (75) en Cronje (50*) het die kolfbeurt gedra. Helpmekaar het geen antwoord vir Cronje se boulwerk gehad nie. Hy 4/21 geneem en die span is vir slegs 98 uitgehaal. Gimmies het dié wedstryd met ’n reuse 174 lopies gewen.



