Volkies se eerste- en o/15A-krieketspanne het tydens hul eerste paar Finsbury A-liga-wedstryde gemengde uitslae beleef.
Teen Hoërskool Rustenburg het albei spanne koning gekraai, met die eerste span wat met 113 lopies wen en die o/15’s wat hul teenstanders van Noordwes met 80 lopies geklop het.
Die eerste span se oorwinning is te danke aan skitterende boulwerk van Johandré Jacobs (5/18) en Olefa Padi (4/39), wat Rusties tot 151 almal uit beperk het. Volkies het vroeër 264 almal uit in 39.1 boulbeurte aangeteken. Theunis Nel se aggressiewe 53 (22 balle) was deurslaggewend vir sy span. Rustenburg se Callie Fryer het met 4/11 sy goeie vorm voortgesit.

Dit was weer Volkies se boulers by die o/15’s wat die pas aangegee het toe hulle Rustenburg vir slegs 72 uitgeboul het. Suresh Adams was hier een van Volkies se wedstrydwenners met 5/11. Volkies is self vir 152 uitgeboul na ’n middelmatige kolfvertoning, maar hul boulers het meer as opgemaak met akkurate en gedissiplineerde boulwerk.

Verdedigende Finsbury-kampioene kry oorhand
Waterkloof het bewys hoekom hulle die huidige kampioene is met goeie oorwinnings teen Volkies. Al het Volkies moedig geveg, kon hulle nie die geel-en-blou masjien van Pretoria stop nie.
Volkies se eerstes is vir 126 uitgeboul in 28.5 boulbeurte, met Nel (29 van 17 balle) wat die meeste bygedra het. Klofies se Rivan Booysen het 4/32 geneem. Klofies het met 9 paaltjies gewen nadat AJ de Villiers (55* van 58 balle) en Juan Swart (41* van 36 balle) ’n onoorwonne vennootskap vir die tweede paaltjie opgebou het.
Waterkloof se o/15A’s het Volkies met 7 paaltjies geklop nadat hulle Volkies vir 142 in 46.1 boulbeurte uitgeboul het.



