Die NWU Young Guns het in ‘n opwindende wedstryd met 40-31 teen die UCT Ikeys Young Guns vasgeval op die Fanie du Toit Sportgronde op Maandag, 2 Maart.
Die NWU het op ‘n stadium met 24-5 voorgeloop en dit het gelyk of hulle ‘n oorwinning sou behaal, maar die besoekers se terugvegpoging, in die bestek van 25 minute, het ‘n stokkie daarvoor gesteek.
Foto’s: Wouter Pienaar
Uitblinkers vir die NWU sluit in die oud-Volkie, Christoff Nel, sowel as die oud-Gimmie, David Ndala, wat albei drieë gedruk het. Die NWU-heelagter, Anele Ngewenya, se puik lopie het gesorg dat Ndala gemaklik oorduik. Nel se drie was ook ‘n besondere solo-lopie waar hy UCT se verdedigers na wind laat gryp het.
Erich Potgieter, GJ Steenberg en Robert John-Onsunkwo het ook vir die tuisspan gedruk.
UCT het ‘n nuwe rat ontdek in die tweede helfte, met die haker, James Kobrowisky, en die linkervleuel, Caleb Jeneker, wat oorduik. Die vaskopstut, Unaye Ndau, sowel as Olunje Mehlomakulu, het gesukkel om gekeer te word, met Mehlomakulu wat ‘n onderskepdrie gedruk het om die wedstryd vir die Ikeys te beklink.








