Vermeende oortreder aangekeer na LGBTQIA+-vlag geskend is
Hierdie vlag is ook al in die verlede op kampus gevandaliseer.
’n LGBTQIA+-vlag is op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus gevandaliseer in wat studente as ’n “haatdaad” beskryf.
Die universiteit het bevestig dat ’n klag van opsetlike saakbeskadiging by die SAPD aanhangig gemaak is.
In ’n verklaring wat op 2 Maart uitgereik is, het die NWU die voorval ten sterkste veroordeel.
“Dit is ’n onaanvaarbare daad wat lynreg teenoor ons waardes en etos staan,” lui die verklaring.
Die instelling het beklemtoon dat dit verbind bly tot die skep van ’n omgewing van respek en inklusiwiteit.
“As ’n instelling bly ons daartoe verbind om ’n omgewing van respek en insluiting te bevorder. Ons is trots daarop dat ons die waardigheid van alle lede van ons gemeenskap handhaaf en beskerm, ongeag ras, politieke affiliasie, godsdiens, geslag of seksuele oriëntasie. Ons sal nie optrede duld wat daarop gemik is om ’n gevoel van behoort onder ons studente, personeel en ander belanghebbendes ondermyn nie,” het Louis Jacobs, woordvoerder vir die universiteit, gesê.
Volgens die universiteit is die beweerde oortreder reeds geïdentifiseer en aangekeer.
“Die nodige dissiplinêre prosesse het reeds begin en strafregtelike aanklagte kan ook volg,” het die NWU gesê.
Studente en lede van die LGBTQIA+-gemeenskap op kampus het hul skok en woede oor die voorval uitgespreek. Onthatilë Mosweu, ’n student, het gesê die daad strek verder as blote vandalisme.
“Dit is nie net vandalisme nie, maar ’n vorm van haat teenoor mense in die LGBTQI+-gemeenskap. Dit skree: ‘Jy word nie aanvaar nie en jy hoort nie hier nie.’ Wie ook al dit gedoen het, moet die gevolge van sy of haar dade dra.”
Die universiteit het intussen studente en personeel aangemoedig om enige inligting oor die voorval aan die owerhede of kampusveiligheid te rapporteer. Die ondersoek duur voort.



