Boelies het vir Haley Heathcote (13) op ’n veg-of-vlug-pad geplaas. Sy het gekies om te veg, maar nie uit aggressie nie, eerder om haarself te verdedig en op te staan teen dit wat haar vrede steel.
“Ek is op laerskool geboelie en het geweet dat ek iets daaraan moet doen. My ouers het voorgestel dat ek Ring Contact Fighting Art (RCFA) begin, en só het ek geleer om myself te verdedig. Ek kon myself toe by die skool beskerm.”
Sedert sy aangesluit het, het sy die afgelope vier jaar in die sport gegroei en blink sy nou uit as een van die topvegters onder leiding van Sensei Mark Ekron.

Haley het twee goue en twee bronsmedaljes by die 2026 RCFA Ope Wêreldkampioenskappe, wat van 3 tot 6 April in Vanderbijlpark by Emerald Casino plaasgevind het, behaal. Haar twee goue medaljes was in die Millennium- en reekse (kata)-kategorieë.
“Ek leer baie en dit is lekker om in die sport te groei. Ek wil eendag graag aan die UFC (Ultimate Fighting Championship) deelneem,” vertel Haley oor haar drome.
Haley is ’n harde werker en beskik oor baie deursettingsvermoë. Sy raai almal aan om hierdie sport te beoefen, veral dié wat ook geboelie word.
“Dit is belangrik om vir jouself op te staan. Ander mense kan nie jou waarde bepaal nie,” sê hierdie vegter wat by Oak Valley Tutoring Academy in Bailliepark skoolgaan.



