SportSport

Potch Dorp Krieketklub mik vir Superliga-sukses

’n Belangrike doelwit vir Potch Dorp is om wenkrieket in die Superliga te speel

Die oudste krieketklub in Noordwes is ná 163 jaar se bestaan in ’n uitstekende posisie om na nog groter hoogtes te beweeg met die dat hul in die Superliga speel.

Daar is ’n opgewondenheid in die lug by Potch Dorp Krieketklub vir die 2026/27-krieketseisoen, waar hulle met sterk artillerie teen ander groot kanonne in verskeie ligas gaan kompeteer.

’n Belangrike doelwit vir Potch Dorp is om wenkrieket in die Superliga te speel teen spanne van Oostelikes, Gauteng en Noordelikes (Titans). Op plaaslike vlak, in die Noordwes Premierklubliga, wil hulle aanhou om ’n kranige teenstander vir die NWU se verskeie krieketspanne te wees.

Potch Dorp speel in die Premierliga teen spanne soos NWU 1, Ibbies, Taurus, Ikageng en Travelling Reefs. Verlede jaar het hulle in die derde plek geëindig.

Potch Dorp se eerstespankaptein, Wehan van Rooyen, noem dat Potch Dorp ’n oop klub is wat geleenthede vir krieketspelers bied.

“Ons kompeteer met die universiteitspanne en ons wil graag aanhou om goeie wedstryde teen hulle te speel. Daar is goeie eenheid in ons klub, met spelers van verskillende skole en ouderdomme wat goed meng. Dit maak dit lekker om vir Potch Dorp te speel. Jy kan uitnemende krieket speel, maar ook voel dat prestasie nie die enigste prioriteit is nie. Dit haal die druk af vir spelers wat ’n voet in die deur wil kry om goeie klubkrieket te speel.”

Potch Dorp se basis is by die bekende Witrand Oval, waar hulle die afgelope paar jaar topkrieket speel.

Potch Dorp Krieketklub is gereed om weer in die Superliga hierdie komende seisoen te speel. Foto: Verskaf

“Buiten die Superliga wil ons ook goeie krieket in die T20-klubkompetisie speel sodat ons na die nasionale T20-klubkampioenskappe kan vorder. In die Superliga is daar geleenthede vir spelers om ’n indruk te maak en dan die geleentheid te kry om by unies aan te sluit,” voer Wehan verder aan.

Potch Dorp se bestuur bestaan uit die Gericke-broers, Stefan en Ockert, wat ’n lang verbintenis met die klub het. Albei is reeds tussen 10 en 20 jaar by die klub betrokke nadat hulle eers as spelers hul merk gemaak het. Stefan is sedert 2019 die voorsitter en Ockert die ondervoorsitter.

Dit is juis vir Potch Dorp belangrik om, benewens hul spelerskorps van 40 geregistreerde spelers, nog manne by te voeg sodat verdere diepte in die klub gebou kan word.

“Daar is baie spelers wat dalk ná skool opgehou het en weer krieket wil beoefen. Daar is ook spelers wat ná hul studies aan die universiteit wil aanhou krieket speel, en dit is hier by Potch Dorp waar hulle ’n plek kan kry,” noem Ockert.

“Daar is regtig ’n plek vir almal by Potch Dorp. Ons eerste- en tweedespanne bestaan uit kwaliteitspelers en ons krieket het baie verbeter. Hier raak spelers pelle,” voer Stefan aan.

In die afgelope paar jaar het Potch Dorp spelers van Volkies en Gimmies getrek wat goeie vertonings in die klubsisteem gelewer het.

“Ons moedig Potchefstromers aan om ons te kom ondersteun en sodoende van ons tuisveld ’n plek te maak waar mense nie net krieket kan kyk nie, maar ook vriende en familie kan saambring. ’n Gesonde en sterk dorpspan is tot voordeel van die gemeenskap,” noem Wehan.

Vir meer inligting oor hoe om by Potch Dorp Krieketklub betrokke te raak, kan Wehan van Rooyen by 071 701 4400 gekontak word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button