SportSport

Luiperds verloor met een punt teen Griffons in rillerstryd

Die Luiperds was op die nippertjie om die wen in te palm maar sake het net nie hul kant toe gegaan nie.

Die Luiperds het vir die tweede keer vanjaar ‘n rillerstryd teen die Griffons in Welkom verloor toe hulle hierdie afgelope Saterdag, 20 Junie, met 39-38 in hul Curriebeker Eerstedivisie-wedstryd vasgeval het.

Die Luiperds se losskakel, Jandré Burger, kon met ‘n doelskop van die kantlyn af die wedstryd met die laaste skop wen, maar hy kon nie daarin slaag nie. Dit was ‘n bitter pil om te sluk vir die Potchefstromers, wat so graag aan die wenkant van die telbord wou wees.

Die Luiperds sal weet dat hulle die wedstryd moontlik beter moes bestuur het, veral nadat hulle teen rustyd ‘n voorsprong van 26-12 oor die Griffons opgebou het. Die Griffons het egter die eerste gedeelte van die tweede helfte oorheers en skielik was die Luiperds met 39-26 agter ná ‘n driekuns deur die regtervleuel, Chadrack Tshimanga.

Die Luiperds het in die laaste vyf minute teruggeveg met drieë deur Ghudian van Rheenen en Luyolo Doyi, albei in die hoekie, om nuwe lewe in die wedstryd te blaas.

Vroeër het die Luiperds se regtervleuel, Sino Tshontyi (2), asook Shaun Baxter en Brendan Keevy puik drieë gedruk. Keevy het veral ‘n indrukwekkende sololopie ingesit om vir Tshimanga te klop.

Die tuisspan se driedrukkers was Simon Westraadt, Chris Hollis en Clive Kruger.

Die Luiperds se hoofafrigter, Riaan van Straten, sê dit is ‘n moeilike wedstryd om te verloor.

“Ons het baie mooi aanvallende rugby gespeel en reeds in die eerste helfte ons bonuspunt gekry. Die begin van die tweede helfte, veral die eerste 20 minute, het ons gesink, maar ons het goed teruggeveg om die wedstryd tot 39-38 te neem,” sê hy.

Van Straten voeg by dat hy geglo het Burger sou die skop oorsit, en hoewel hy dit nie reggekry het nie, het hy ná die wedstryd vir Burger gesê om sy kop hoog te hou.

“Ons bloei ná die verlies, want die manne werk hard om daardie wen te kry. Ons volgende wedstryd is weer weg teen OP. Ons sien daarna uit.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button