Huis is waar die hart is.
Hierdie bekende uitdrukking is beslis van toepassing op die NWU en Noordwes Dragons se opwindende openingskolwer, Ludwich Schuld.
Hierdie BCom Internasionale Handel-student is tans in sy derde en finale studiejaar en het ook vir die opkomende 2026/27-krieketseisoen ‘n volle kontrak by die Dragons gekry. Dit sal sy derde jaar by die Dragons wees nadat hy die vorige twee jaar as ‘n akademiespeler sy kans gekry het.
Hy het verlede seisoen veral in die T20-wedstryde ‘n groot impak vir die Dragons gemaak en is beloon met die toekenning as Noordwes Krieket se Dragons T20-speler van die Jaar. Dit is ‘n uitstekende prestasie vir hierdie 20-jarige wat reeds op skool bewys het dat ouderdom nie sukses bepaal nie – as jy goed genoeg is, is jy oud genoeg.

“Een van my beste herinneringe is toe ek in Graad 4 my eerste honderdtal teen o13’s aangeteken het,” vertel Ludwich terwyl hy terugdink aan sy beste oomblikke in sy krieketloopbaan.
Ander hoogtepunte sluit in dat hy vir twee agtereenvolgende jare (2022 en 2023) in Noordwes se Khaya Majola-span ingesluit is en albei jare die gesogte SA Skolespan gehaal het. Sodoende was gereken hy een van die land se beste jong spelers met ‘n blink toekoms voor hom.
“Ek het besef dat ek ‘n loopbaan uit krieket kan maak.”
Kort voor lank het die Dragons-afrigters, Craig Alexander en Neil Levenson, hom raakgesien. Voor hy sy oë kon uitvee, het hy saam met gesoute spelers soos Wihan Lubbe, Janneman Malan en Rubin Hermann begin kolf.
“Ek is van die begin af goed verwelkom en om deel van die Dragons te wees, is ‘n voorreg. Die oefening is intens, sowel as die standaard, wat op ‘n baie hoë vlak is,” noem Ludwich.
Een van die lekkerste aspekte van die Dragons is die mense saam met wie hy speel en die kleedkamer waarvan hy deel is.
“Die krieket is lekker, maar om nuwe vriende te maak en mense te leer ken, maak die ervaring soveel beter. Dit is ‘n lekker groep ouens,” verduidelik hy.

Ludwich het op ‘n plaas tussen Viljoenskroon en Potchefstroom grootgeword en uiteindelik sy weg na Hoër Volkskool Potchefstroom gevind, waar hy onder leiding van Andries Huisamen sy krieket na groter hoogtes geneem het.
“Ek het afrigting by mnr. Andries gekry vandat ek in Graad 6 was. Hy het nie net my krieket verbeter nie, maar my ook belangrike lewenslesse geleer. Hy het steeds ‘n groot impak op my lewe,” verduidelik hy oor sy mentor.
Hy noem ook dat Brady Barends (NWU-afrigter), sowel as sy Dragons-afrigters, Neil en Craig, almal tot sy groei as krieketspeler bygedra het.
“My doelwitte vir hierdie seisoen is om op laas se seisoen te verbeter, hard te werk, aan te hou oefen, my geleenthede aan te gryp en beter te vaar. Ek sal graag meer vierdag- en 50-beurtkrieket wil speel.”

In die toekoms wil Ludwich graag sy krieket na nog hoër hoogtes neem, met drome om in verskeie T20-ligas regoor die wêreld, soos die SA20 en IPL, te speel.
“Ek sal natuurlik ook vir die Proteas wil speel. Dit is ‘n groot droom,” vertel hy ywerig.
Enigiemand wat al vir Ludwich sien kolf het, weet dat hierdie linkshandse kolwer daarvan hou om balle oor die grens te moker, veral met ‘n trekhou of ‘n dryfhou oor ekstra dekpunt. Oor die algemeen hou hy daarvan om boulers onder druk te plaas.
“Ek het al baie aan klein verbeteringe in my tegniek en posisie gewerk, maar die belangrikste is om my oog op die bal te hou. Die res sal van daar af volg.”

Van die krieketveld af is Ludwich ook baie sportief en noem dat hy van enige sport hou wat ‘n bal behels.
“Ek het op ‘n stadium baie goed tennis gespeel en hou steeds baie daarvan. Ek speel ook padel en tafeltennis. Verder geniet ek dit om te jag, en ek hou ook baie daarvan om te eet. Dit is lekker om myself so nou en dan met iets lekker te bederf,” noem hy.
Ludwich is nie een vir die groot stadslewe nie en verkies dit om tyd op die plaas deur te bring. Buiten die krieketveld is dit waar hy werklik tuis is.
“Ek hou van die kleiner dorpe. Die stilte van die plaas is lekker. Ek geniet dit vreeslik baie.”



