
Die NWU Rugbyinstituut het vanjaar weer top spelers opgelewer wat vir unies regoor Suid-Afrika uitdraf.
Ses van die NWU se Varsitybekersterre het professionele kontrakte by Suid-Afrikaanse rugbyunies losgeslaan. Hulle is Matthew Fortuin (Sharks), Jaco du Toit (Sharks), Stephan Krugel (Pumas), Jordan McLoughlin (Pumas), Sean Roulston (SWD) en Ricardo Fourie (Luiperds).
Hulle was ook in aksie vir hul unies in die Curriebeker Eerste Divisie en Premierligas.
Die NWU se Varsitybeker-kaptein, Stephan Krugel, het die afgelope paar seisoene die harde werk op die Fanie du Toit-sportgronde ingesit en het ‘n gulde geleentheid om sy spel na die volgende vlak by die Pumas te neem.
Die Pumas is een van Suid-Afrika se top unies nadat hulle die SA Beker twee jaar agtereenvolgens gewen het.
Hulle beskik ook oor ‘n sterk groep voormalige NWU-spelers, waaronder die 2023 Varsitybeker-wenkaptein, Sampie Swiegers, Gustav du Rand, André Fouché, Heinz Bertram, Marvellous Mashimbiyi en Tino Swanepoel.
“Dit beteken baie vir my en ek voel baie bevoorreg oor die geleentheid by die Pumas. Dit is moeilik om ‘n professionele kontrak te kry en ek sien uit na die uitdagings en geleenthede wat voorlê,” sê Krugel.
Volgens Krugel is die Pumas die ideale plek om na Varsitybeker-rugby aan te sluit omdat dit ‘n omgewing bied waar spelers hard kan werk en verder kan ontwikkel.
“Ek sien uit daarna om ‘n beter speler op ‘n selfs hoër professionele vlak te word. Ek sien ook daarna uit om saam met meer ervare spelers te speel en te sien hoe hulle wedstryde benader,” voeg hy by.
Krugel was ook vol lof vir die ondersteuning wat hy by die NWU ontvang het terwyl hy sy studies voltooi het.
“Die NWU het my die geleentheid gegee om te studeer wat ek wou, terwyl dit ook die grondslag gelê het vir my rugbyloopbaan. Die NWU is baie professioneel. Die afrigters, die strukture en die moeite wat ingesit word, gee spelers die geleentheid om gereed te wees vir die professionele unie-omgewing.”
Matthew Fortuin, die bekende buitesenter van die NWU Arende, het ‘n eenjaarkontrak by die Sharks ontvang.
“Ek is baie opgewonde oor die geleentheid om vir die Haaie in die Curriebeker te speel. Dit is ‘n ongelooflike geleentheid en ek wil net my beste gee. Dit beteken baie vir my en my familie. Ek wil soveel moontlik wedstryde speel.”
Voortdurende verbetering is hoog op Fortuin se prioriteitslys, met die droom om eendag die Springboktrui aan te trek.
“Die NWU beteken ongelooflik baie vir my. Afrigter Burger (van der Westhuizen), Afrigter Chaka (Willemse) en Oom Mervyn (Taylor) het nie net ‘n groot rol in my ontwikkeling as speler gespeel nie, maar ook as mens. God het my by die NWU geseën. Die NWU sal altyd ‘n spesiale plek in my hart hê,” sê Fortuin.
In Potch het die NWU-flank, Ricardo Fourie, wat vanjaar die Forward that Rocks-toekenning in die Varsitybeker gewen het, die Luiperds in die Curriebeker Eerste Divisie verteenwoordig. Hy beskou dit as ‘n geleentheid om verder te ontwikkel en die aandag van groter unies te trek.
“My doelwit is om die Luiperds te help om goeie rugby in Eerste Divisie te speel. Dit sal deure vir my rugbyloopbaan oopmaak,” sê Fourie.
Du Toit, wat saam met Fortuin by die Sharks is, noem dat hy ‘n geleentheid het om in die Curriebeker ‘n naam te maak en sodoende sy kontrak te verleng.
“Die NWU is baie na aan my hart ons was regtig geseend om deel te wees van so n span en afrigtingsspan.”



