Om geleenthede aan te gryp was nog altyd iets wat deel van die NWU-kolwer, SW Kemp, se DNS is.
Tydens die KSA Opkomende-toer na Potchefstroom in Julie het hy teen die land se top opkomende Protea-talent sy staal met twee puik vyftigtalle in die lang- en korter formate van die spel bewys.
SW, ‘n finalejaarstudent in Menslike Bewegingskunde, het ‘n 84 in die tweedagwedstryd geslaan en ook ‘n uitstekende 75 van slegs 32 balle in die eendagwedstryd.
“Dit is altyd goed om jouself teen die land se bestes te toets. Dit gee ‘n hupstoot aan ‘n mens se selfvertroue. Ek hoop dit kan ‘n paar deure oopmaak en wys waar ons as ‘n span ook is.
‘n Hoogtepunt vir SW in sy tyd as NWU-krieketspeler was toe hy die universiteit na die 2024 USSA-kriekettitel in Bloemfontein gelei het. Hierdie oud-Waterkloof leerder is ook as die speler van die toernooi aangewys. In die eindstryd het hy saam met sy spanmaat en vriend, Ludwich Schuld, die NWU na ‘n negepaaltjie-oorwinning teen Maties gelei. SW het in daardie wedstryd ‘n briljante 88* (117 balle) en Ludwich ‘n 96 (105 balle) geslaan.

Hy is ook in 2025 as Krieket Suid-Afrika se Studentespeler van die Jaar aangewys.
Al hierdie ongelooflike oomblikke het amper nie vir SW gebeur nie, wat in matriek sy krieketdrome laat vaar en opgehou het om krieket te speel.
“Ek het einde matriek opgehou met krieket. Ek was bietjie uitgebrand. Aan die einde van my gap year het ek weer begin krieket speel. Deur my oud-Waterkloof-spanmaats en afrigter, Conrad de Swardt, het ek ‘n geleentheid gekry om vir die NWU te speel. Ek moes myself van die derde span na die eerste span opwerk,” vertel hy oor sy ongewone pad.
“Ek voel ek is hier vir ‘n rede geplaas om weer my droom aan te pak en klaar te maak waarmee ek begin het,” vertel SW, wie se gunstelinghou die trekhou is.
Nou is SW in goeie vorm en gereed om sy merk in sy laaste studiejaar te maak. Die 2026 USSA-toernooi vind juis later vanjaar, van 30 November tot 4 Desember, in Potchefstroom plaas.
“Dit sal groot wees as ons USSA op ons eie veld kan wen.”
SW kom uit ‘n sportiewe gesin waar hy beide rugby en krieket gespeel het, maar op die ou einde het hy sy fokus na krieket verskuif.
SW se wenresep is eenvoudig – om te fokus op dit wat eerste in plek moet wees.
“Ek bid voor die wedstryd. Gebed hou my rustig. Dit kalmeer my. Wat ook al moet gebeur, sal gebeur,” sê hy.
“Ek sit nie te veel druk of stres op myself nie. Dit gaan daaroor om die basiese dinge reg te doen.”



