Die NWU-hekkiesatleet en Afrika-rekordhouer in die binnenshuise 60 m-hekkies, Franco le Roux, het net-net op ‘n bronsmedalje in die 110 m-hekkies tydens die 2026 Statebondspele uitgemis.
Le Roux het in 13.53 sekondes oor die wenstreep gegaan om vierde in die eindstryd te eindig. Hy was slegs 0.21 sekondes agter die derdeplekwenner, Milan Trajkovic van Siprus.
DeMario Prince van Jamaika was eerste in 13.17 sekondes en Samuel Bennett van Engeland tweede in 13.30 sekondes.
Volgens Le Roux se afrigter, Shaun Bownes, is daar gemengde gevoelens oor sy vierde plek, aangesien hy die seisoen uitstekend begin het.
“Franco het in die Wêreld-binnenshuise 60 m-hekkiesfinaal die Afrika-rekord gebreek, so ons het regtig gedink dat ons ‘n groot seisoen gaan hê. Daar was terugslae met beenbeserings en voorbereidingstyd, so om op die ou einde vierde te kom, is goed. Ek is trots op hom,” sê Bownes.
Bownes brei verder uit dat hy vir vyf dae saam met Franco in Glasgow gewerk het om verstellings aan sy tegniek te maak en foute reg te stel voordat die Spele begin het.
“Franco het baie uitdagings gehad en kop gehou. Die oggend van die eerste rondte het hy ‘n baie goeie wedloop gehad. Sy selfvertroue het baie gegroei. Ons het geweet dat enigiets in ‘n eindstryd kan gebeur. Ons het gehoop vir ‘n medalje, maar daar is nog baie geleenthede wat vir Franco voorlê. Om ‘n rekord te breek en in dieselfde jaar vierde by die Statebondspele te eindig, is ‘n baie goeie prestasie,” sê hy.
Volgens Bownes groei hy en die 20-jarige Le Roux saam as afrigter en atleet. Hy voorspel ‘n blink toekoms vir sy atleet.
“Ek is baie opgewonde. Daar is nog baie groot dinge wat voorlê.”



