Die oud-Potch Volkie-rugbysenter, NWU-Varsitybekerwenner en plaasboer, Henko Marais, is gereed dat sy vuiste en voete die praatwerk doen.
Marais is een van 20 uitgesoekte boere landswyd wat aan die populêre Moer ’n Boer-realiteitsprogram deelneem wat gemengde gevegskuns en die identiteit van boer-wees kombineer.

Hierdie reeks is nou al in sy derde seisoen en hierdie geleentheid iets wat Marais met albei hande aangryp. Hy moes verskeie fiksheidstake voltooi en ook motiveer hoekom hy deel van die top 20 moet wees. Noudat hy deel van ’n uitgesoekte groep boere is, berei hy hom tans kliphard voor vir die groot geveg wat op 19 September in Pretoria in die gemengde-gevegkunskryt sal plaasvind. Hy sal teen Hannes Malan van Hoedspruit veg.

“Hierdie sport is iets heeltemal anders as rugby, maar ek leer baie. Dit gee weer vir my daardie lus vir oefening en om vir iets te baklei. Boerdery kan baie druk gee. Moer ’n Boer was die perfekte ding om my brein so ’n bietjie van die boerdery af te haal,” noem Henko, wat tans in Lichtenburg boer.
Hy het in 2011 aan Hoër Volkskool Potchefstroom matrikuleer en was ook deel van die NWU se 2016 Varsitybekerwenspan. Henko het ook die Luiperds provinsiaal verteenwoordig.

Volgens Ouboet van den Berg, een van die vervaardigers van Moer ’n Boer, gaan hierdie program op die oog af oor gemengde gevegskuns, maar dieper gaan dit oor die hart en menswees van elke vegter.
“Dit gaan oor die hart van die Boer, oor families wat langs die kantlyn staan en hul man, pa, broer of seun ondersteun, en oor die mense wat bereid is om saam met hom deur die proses te gaan,” verduidelik hy.
Volgens Van den Berg bring elke deelnemer ’n aanhouer-wen-mentaliteit.
“Daar is iets besonders aan die gees wat ons by die deelnemers sien. Dit is die aanhou-en-uithou-gees: om op te staan wanneer jy moeg is, weer te probeer wanneer jy verloor het, en aan te hou wanneer die makliker opsie sou wees om op te gee.”
Die deelnemers vorm ’n hegte eenheid soos hulle vir die groot gevegte voorberei.
“Agter elke deelnemer staan daar mense wat die vroeë oggende, die seer lyf, die harde oefening en die spanning saam met hom beleef. Wanneer hy op die aand van die geveg in die ring klim, dra hy dus nie net sy eie naam nie. Hy dra die mense wat hom daar gekry het saam met hom.”
Kyk meer hier:



