SportSport

Oud-Gimmies speel die baan aan die brand vir die NWU

Beide Christi-Mari (matriek in 2024) en Sunel (matriek in 2021) was leerders aan Potchefstroom Gimnasium, waar hulle hul netbalvaardighede ontwikkel het.

As ’n mens na die uitblinkers in vanjaar se NWU Varsitynetbalspan kyk, is daar sover twee name aan verskillende kante van die baan wat hul name opsteek.

Een is Christi-Mari Coetzee, wat met haar verdediging naam maak en reeds ’n Speler van die Wedstryd-toekenning behaal het. Die ander uitblinker is Sunel Smit, wat as doel die punte vir haar span inryg en waardevolle ervaring in die doelsirkel bied.

Beide Christi-Mari (matriek in 2024) en Sunel (matriek in 2021) was leerders aan Potchefstroom Gimnasium, waar hulle hul netbalvaardighede ontwikkel het. Christi-Mari en Sunel was ook in Laerskool Mooirivier.

Vanjaar het die NWU, as verdedigende kampioene, albei hul eerste wedstryde gewen met ’n 74-31-sege teen die NMMU Madibaz en ’n 60-59-oorwinning teen Tukkies.

Sunel vertel dat hierdie goeie uitslae momentum bou en dat die span gemotiveerd is om die resultate van hul harde werk te sien.

“Vir die res van die toernooi wil ons daarop fokus om met elke wedstryd te groei en te verbeter. Die toernooi is nog ver van klaar en ons weet daar lê nog baie uitdagings voor,” noem Smit na die oorwinning teen Tukkies.

Hierdie doelskieter, wat nou in haar finale jaar van farmakologie is, noem dat sy graag die rol van steunpilaar vir haar span speel.

“My mikpunt vir elke wedstryd is om konstant en akkuraat te wees en om my span se harde werk met die punte te beloon. Elke geleentheid is ’n voorreg, en daarmee wil ek ’n positiewe bydrae tot die span maak.”

Die NWU maak nou gereed vir ’n kragmeting teen UJ op 30 Augustus om 15:00, sowel as ’n tweestryd teen die Kovsies op 31 Augustus om 19:00.

“Ons weet dat UJ en Kovsies twee baie sterk uitdagings gaan wees. Ons fokus bly om elke wedstryd beter te word en om met dieselfde intensiteit en dissipline voort te bou op ons goeie begin. Dit is nooit maklik om Kovsies op hul tuisbaan aan te pak nie, maar dit is altyd ’n goeie uitdaging en ’n wedstryd waarna ons uitsien,” sê Elsunet du Plessis, hoofafrigter van die NWU Varsitynetbalspan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button