Nuwe fiets bring glimlag terug ná trauma
Juan-Liam se ma, Tineke Ingram, sê sy is oorweldig deur die ondersteuning en die besondere gebaar.
‘n Twaalfjarige seun wat vroeër dié week van sy fiets beroof en tydens die voorval beseer is, kan nou weer met ’n glimlag op twee wiele klim nadat die Potchefstroomse gemeenskap binne ’n dag ’n nuwe fiets vir hom help bekom het.
Juan-Liam Heeringa is Maandagmiddag, 24 Augustus, naby die gholfbaan in Potchefstroom na bewering van sy fiets beroof en beseer.
Slegs ’n dag nadat die Potchefstroom Herald se oorspronklike berig oor die voorval verskyn het, is fondse beskikbaar gestel om vir Juan-Liam ’n nuwe fiets te koop.
Braam Fourie, wat by die Gimmies-bergfietsklub betrokke is, het die splinternuwe fiets Woensdag by ES le Grange-spesiale skool aan Juan-Liam besorg.
Juan-Liam se ma, Tineke Ingram, sê sy is oorweldig deur die ondersteuning en die besondere gebaar.
“Die grootste geskenk was egter nie net die fiets nie. Dit was die boodskap daaragter, daar is mense wat omgee, mense wat raak sien en mense wat bereid is om iets te doen om ’n verskil te maak,” het ES le Grange-spesiale skool in ’n boodskap oor die gebaar gesê.
Volgens die skool het die fiets vir Juan-Liam meer beteken as net ’n nuwe fiets, aangesien fietsry iets is wat hom baie vreugde bring.
“Julle het nie net ’n fiets gegee nie, julle het ’n glimlag, hoop en ’n stukkie geloof in die goedheid van mense teruggegee,” het die skool gesê.
Ingram sê die nuwe fiets beteken dat haar seun weer iets kan doen waarvan hy hou.
Die skool het intussen sy dankbaarheid teenoor Fourie, Gimmies se Bergfietsklub en almal wat by die gebaar betrokke was, uitgespreek.
“Ons is ongelooflik dankbaar om deel te wees van so ’n wonderlike gemeenskap. Dit is juis hierdie oomblikke wat ons herinner: ’n Hart wat gee, kan ’n lewe verander.”
’n Saak van diefstal is by die polisie aanhangig gemaak.



