In ‘n tradisionele derby-wedstryd tussen Hoër Volkskool Potchefstroom en Potchefstroom Gimnasium is dit gewoonlik die klein dinge wat die groot verskil maak. ‘n Uithardloopkans wat benut word, ‘n briljante vangskoot of kolwers met instinktiewe hardkoppigheid om nie hul paaltjie te verloor nie.
Hierdie Saterdag, 12 September gaan al hierdie oomblikke en nog meer beleef word wanneer Volkies en Gimmies se krieketspanne die stryd in die Noordwesliga gaan aandurf.

Albei spanne is nog onder onoorwonne in die Noordwesliga en sal graag die oorhand teen mekaar hierdie naweek wil kry.
Volkies sal as gasheer by die eerste span wedstryd optree, terwyl die o15As op die Gimmies-Oval mekaar sal aanvat.
Volkies se eerstespan se sterkpunte lê in hul kolforde wat hul voorste lopiemaker, AW van der Merwe anker. Hul kaptein, Andries Venter sal ook goeie ervaring in die middelorde bied.
Nog ‘n aanwins vir Volkies sal hul draaiers wees. Met Venter, Van der Merwe en Johandré Jacobs wat die lopietempo in toom sal wil hou. Die linkerdraaier, Jacobs, het ook die meeste paaltjies sovêr vir Volkies geneem.

Gimmies se skietgoed bestaan uit hul snelboulers, Ruhan Steenkamp en Jahndré Coetzee. Die draaier, Henré Cronjé is die voorste paaltjievraat vir sy span.
Met die kolf sal die aanvangskolwer, Ulrich Botha, ‘n groot rol speel om sy span ‘n goeie platform te gee. Lukas Kotze en Bennet Keet is ook in goeie vorm met die wilgerlat.
Volkies se eerstespan afrigter en krieketdirekteur, Wynand Schmitt, noem dat sy span gereed is om op tuisveld vir Gimmies aan te vat. Dit ten spyte dat hul wedstryd teen Wesvalia die afgelope naweek uitgereën het.
“Daar is altyd goeie opbou en voorbereiding aan ons kant. Ons sien baie uit. Dit is altyd ‘n harde wedstryd. Volkies se Old Boys speel ook teen Gimmies se Old Boys Vrydagmiddag (11 September) op Gimmies se veld. Dit bou aan die opwinding vir die week. Ons glo dat ons ‘n goeie dag sal hê Saterdag.”
Jandré Jacobs, Gimmies se krieketdirekteur, noem dat sy skool graag hul titel as Noordweskampioen wil bewys.
“Dit is vir ons ‘n groot eer om teen Volkies te kan speel. Ons het goed teen groot skole soos Garsfontein, Waterkloof en Menlopark voorberei. Om teen Volkies te speel is soos ‘n NW-finaal. As mens so wedstryd verloor, is jou kanse om bo uit te kom min. Ons spanne het verlede jaar die derby gewen en ons wil dit weer doen.”
Jacobs weer dat albei Volkies se spanne sterk is en hul als sal gee.
“Hulle sal defnetief hulself wil redeem na laasjaar en ons moet reg wees vir alles wat hulle na ons toe gaan bring. Potchefstroom se krieket is gesond. Twee groot krieketskole maar net een kan bo uitkom.”
Die wedstryde vind Saterdag, 12 September om 09:00 plaas.
Die Old Boys sal mekaar Vrydag, 11 September om 14:00 in ‘n T20 stryd op die Gimmie-Oval aanvat.



