Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste en o15A-krieketspanne sal vanaand met groot glimlagte gaan slaap nadat hulle albei senutergende oorwinnings teen Potchefstroom Gimnasium behaal het.
In die Noordwesliga-wedstryde vandag (Saterdag, 12 September) was sake in albei wedstryde baie gelyk. Volkies se eerste span het by die tuisveld met 12 lopies gewen, terwyl die o15A’s by die Gimmie-Oval met 13 lopies geseëvier het. In albei wedstryde het die boulers hul stempel afgedruk.
Die eerste span se held was Hanru Combrinck, wat met sy linkerarm-draaiballe die laaste twee belangrike paaltjies geneem het.
Gimmies het nog 15 lopies van 12 balle benodig met twee paaltjies oor. Ulrich Botha, wat ’n uitstekende 86 (139) geslaan het, probeer om die grens te haal met ’n veeghou, maar kry net die rand van sy kolf aan die bal.
Die bal skiet die lug in en tyd staan omtrent stil terwyl Johandré Jacobs onder dit kom. Koel en kalm vang hy die bal om die wedstryd in Volkies se guns te laat draai.
’n Paar balle later word Damian Kruger skoongeboul om die wen vir die tuisspan te seël.
Combrinck vier fees en hardloop na sy spanmaats, vinger in die lug. Sy spanmaats omhels mekaar in ekstase, terwyl Gimmies se kolwers op die veld lê en dink aan wat kon wees.





Gimmies het van 107/3 tot 160 almal uit gegaan, met Volkies se draaiers wat die lopiekraan toegedraai het. Combrinck eindig met 4/17 in 7.5 boulbeurte. Olefa Padi (2/25) en AW van der Merwe (2/43) het ook goed met die bal gevaar, terwyl Jacobs 0/24 in sy 10 boulbeurte ook ekonomies was.
Botha was Gimmies se anker met die kolf en het aanhou veg, ondanks ’n paar kanse wat hy gekry het. Bennet Keet het ook goed vertoon met 31 (48), voordat Combrinck hom been voor paaltjie uitgekry het om Volkies se terugvegpoging aan die gang te sit.
Ander sleuteloomblikke was Eizer Behrens se uithardloop en Padi se draaibal wat Bernard Judels se paaltjie laat kantel het toe Gimmies momentum begin bou het.
Vroeër is Volkies vir 172 in 29.3 boulbeurte uitgeboul. Die lopietempo was goed, maar gereelde paaltjies het hulle gekeer om ’n groter telling op te bou.
Ruhan Steenkamp (1/29), Damian Kruger (3/9) en Henré Cronje (2/7) het Volkies van 141/3 tot 172 almal uit laat verkrummel.
Vir Volkies was Riekert Kruger uitstekend met ’n 57 (59), terwyl Van der Merwe ’n vinnige 42 (24) geslaan het voordat hy een aggressiewe hou te veel gespeel en uitgevang is.
Volkies sal hierdie oorwinning nog lank onthou. Dit was ’n wipwaentjierit van begin tot einde – op en af, met genoeg adrenalien om enige krieketondersteuner se hart vinniger te laat klop.



