SportSport

Vat vyf, Mofenyi!

Dit het Volkies se draaibouler, Mofenyi Olaniran, net 28 balle geneem om vyf paaltjies te vat en die o15A's na 'n wen teen Gimmies te neem.

Toe Potchefstroom Gimnasium se o15A-krieketspan net 36 lopies nodig gehad het met nog vyf paaltjies in die sak, was Victor Scheepers (26) en Jaco Marais (23) goed op dreef om Volkies se telling van 105 te haal.

Dit was voordat Mofenyi Olaniran op die toneel verskyn het en vyf paaltjies vir slegs vyf lopies in 4.4 boulbeurte geneem het om sy span na ’n 13-lopie-oorwinning te lei. Gimmies is almal vir 92 lopies uitgeboul.

Juhan Nortje van Volkies in aksie.

Olaniran, wat tans ’n Graad 8-leerder aan Saints Christian School is en vir Volkies as deel van ’n krieketbeursooreenkoms speel, het in sy eerste Volkie-Gimmie-ligawedstryd die wedstryd met sy wegbreekballe omgedraai.

Hy het Marais en Scheepers se paaltjies geneem voordat hy ook van Dian de Bruyn, Adriaan Kruger en Rikus le Roux ontslae geraak het. Le Roux is been voor paaltjie betrap om Volkies se oorwinning te verseker.

Gimmies het moedig geveg met die kolf voor Olaniran se draaiballe amok gemaak het.

Toe die skeidsregter se vinger opgaan, was die Volkievreugde groot – veral omdat 105 lopies nie ’n groot telling in ’n 50-beurtwedstryd is nie.

Janu de Beer (3/33) was ook uitstekend in die eerste beurt toe hy drie paaltjies laat kantel het. Gimmies se topkolwers, Juvan Botes, Casey Lues en Christoff Raubenheimer, is almal uit met die telling op 6/3.

Dit het vir Volkies hoop gegee, maar hulle moes steeds skouer aan die wiel sit toe Gimmies begin terugveg.

Suresh Adams, Volkies se kaptein, stuur ‘n aflewering af.

Botes was vroeër ook uitstekend met die bal vir Gimmies en het 5/21 in sy 10 boulbeurte geneem – ’n vertoning wat op enige ander dag heel moontlik die wedstryd kon wen. Adriaan Kruger (4/28) was ook skitterend.

Jean Liebenberg se 29 was die meeste wat Volkies se kolwers met die kolf kon bydra.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button