Volkies het die eerste skote in die Volkie-Gimmie-krieketnaweek gevier toe hulle Gimmies in die Old Boys T20-wedstryd gistermiddag (11 September) op die Gimmie-Oval met agt paaltjies geklop het.
Volkies se Old Boys het Gimmies tot 115 lopies beperk, met Cobus Crowther wat drie paaltjies geneem het. Louis van Wyk het 50* aangeteken om sy span na die oorwinning te lei.
Hierdie wedstryd was ook ’n bewys van hoe sport, mense uit verskillende eras bymekaar bring en hoe sterk skoletrots by albei skole is.
Alle oë sal nou skuif na vandag (Saterdag, 12 September) se eerste span- en o15A-krieketwedstryde tussen Gimmies en Volkies. Die eerste spanne speel by Volkies, terwyl die o15A’s by Gimmies sake uitspook.
Die wedstryde begin om 09:00.



