Genl. De la Rey se gesteelde borsbeeld gaan vervang word

'Onvernietigbare materiaal' gaan gebruik word vir nuwe beeld

  Die borsbeeld  van generaal Koos de la Rey, wat verlede naweek in die Lichtenburg-begraafplaas in Noordwes gesteel is, gaan deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vervang word. Genl. De la Rey se graf is ook deur die vandale beskadig. De la Rey is een van die mees gevierde Boeregeneraals, wie se krygsvernuf hom as die Leeu van Wes-Transvaal bekend laat word het. Hy het regdeur sy lewe ’n groot bydrae gelewer: Voor die oorlog het hy ’n belangrike minderheidstandpunt verteenwoordig. Tydens die oorlog was hy een van die mees onverskrokke en bekwame aanvoerders. Ná die oorlog het hy ’n belangrike bydrae gelewer om die vryheidstrewe by Afrikaners lewend te hou, teenoor die aanloklikheid van inskakeling by die groot Britse Ryk. Selfs ná sy dood was hy ’n simbool van Afrikanerskap en die strewe na ’n herstelde republiek. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge gaan die gesteelde bronsbeeld, wat deur Fanie Eloff in 1917 gemaak is, met “’n onvernietigbare replika” vervang nes dié organisasie in 2018 gedoen het toe pres. Paul Kruger se graf in die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria gevandaliseer is en die borsbeeld op sy graf vernietig is. Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het Afrikaners met goeie reg rede om kwaad te wees oor die vernietiging van ons erfenis, maar ons is beslis nie moedeloos nie. “Daar gaan nie ’n naweek verby waar kultuurorganisasies en gemeenskappe nie op ses of sewe plekke regoor Suid-Afrika hard aan die werk is om ’n graf, monument of erfenisterrein te versorg nie. Afrikaners is beslis besig om opnuut eienaarskap vir ons erfenis te neem.” Die FAK het almal se hulp nodig: Ondersteun die FAK-Geskiedenisfonds en dra by tot die bewaring en bevordering van Afrikanerstandbeelde en -monumente. SMS GENERAAL na 45730 (R1,50) as jy wil uitvind hoe jy deel van dié veldtog wil word.

Genl Koos de la Rey – Foto-erkenning: Wikipedia

Kyk na Bok van Blerk se historiese lied oor Genl. Koos de la Rey by hierdie skakel: https://www.youtube.com/watch?v=fHn2jLCFxKk

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523

Related Articles

Back to top button