Dit is weer tyd vir Potch Dorp en Klerksdorp Zambesi se rugbyspanne om die tradisieryke derby hierdie Saterdag (18 Julie) by Dorp se velde voort te sit.
Potch Dorp teen Klerksdorp is een van Noordwes se grootste en mees historiese klubkragmetings. Die vorige rondte het in Klerksdorp plaasgevind, waar Potch Dorp se eerstespan met 31-15 gewen het.
Die manne van Potch sal dit nou twee uit twee wil maak op Piet Bosmanpark. Die wedstryd tel vir punte in beide die Neser- en Presidentligas.
“Albei spanne weet wat op die spel is, en daarom is voorbereiding die afgelope paar weke intens. Ons werk hard om seker te maak dat die uitslag weer in Potch Dorp se guns sal wees,” sê Potch Dorp Rugbyklub se voorsitter, Niekie Pullen.
“Een ding is egter seker: niemand kom Potch Dorp toe en verwag ’n maklike wedstryd nie. Hierdie is ons tuisveld. Hier speel ons met trots, passie en ’n onwrikbare geloof in die Dorp-trui,” voer hy verder aan.
Hy noem ook dat die tradisie tussen Potch Dorp en Klerksdorp een is wat nog vir jare in die toekoms moet voortleef en dat albei klubs se liefde vir rugby en respek vir mekaar sigbaar is.
“Trek ons kleure aan, bring die gees en vul die pawiljoene. Julle stemme maak ’n verskil, en saam skep ons die atmosfeer waarvoor Potch Dorp bekend is,” sê Pullen.
Afskoptye:
13:00: Potch Dorp 2 vs Klerksdorp Zambesi 2
14:30: Potch Dorp 1 vs Klerksdorp Zambesi 1
Meer as net rugby
Daar gaan nie net uitstekende rugby op die veld plaasvind nie, maar die wedstryde is ook vir ’n goeie doel. Toegangsfooi is R20 per persoon, of andersins ’n kombers vir Sonop Ouetehuis of honde-en katkos vir PAWS Haven.



