In sopnat toestande in Oos-Londen moes die Luiperds skraap vir ‘n 17-14 oorwinning teen Grens om hul Curriebeker Eerste Divisie-drome te laat voortgaan.
Enigeiets minder as ‘n wen sou die Luiperds uit die top 4 posisies gehou het. Gelukkig vir die Luiperds was hul sege op Saterdag, 11 Julie genoeg om hul na die halfeindstryd te neem. Hul moes ook hoop dat die Griffons teen die Valke verloor, wat toe wel gebeur het.
Sodoende mis die Griffons, wat verlede jaar die Curriebeker Eerste Divisie gewen het, uit op ‘n plek in halfeindstryde.
“Ons is baie dankbaar vir die wen. Op ‘n stadium moet ons met 13-manne speel na ‘n rooi kaart en ‘n paar geel kaarte. Ons moes grou vir die wen,” noem Luiperdsd hoofafrigter, Riaan van Straten.
Hy noem dat ‘n noue oorwinning vir sy jong span goed was omdat hulle vir elke sentimeter op die veld moes veg om Grens uit te hou.
“Ons het hard verdedig. Ons het geduik. Ek is trots op die ouens.”
Vir Van Straten en sy span lĂȘ daar nou ‘n moeilike taak voor met ‘n wegwedstryd, wat beteken dat daar min tyd vir herstel sal wees.
“Ons is gaar gereis. Dit gaan ‘n stewige week wees. Dit is die eerste keer in ‘n lang tyd wat ons twee wedstryde in ‘n ry wen.”
Die Luiperds sal nou komende naweek (18 Julie) na George toe reis om die SWD Arende in die een halfeindstryd aan te vat. Die Valke en OP kom in die ander halfeindstryd te staan.
“Enigeiets is moontlik in ‘n halfeindstryd. Ons is lus vir die halfeindstryd.”



