Nie eers die koronavirus kan in die pad van Laerskool Randfontein (Ram) se Sebastian Pretorius staan nie.
Hy het regdeur die grendeltyd sy passie uitgeleef en die een na die ander sertifikaat in poësie, redenaars en drama ingeryg.
“Ek het hierdie jaar aan Dramaweb deelgeneem. Dit is ‘n nasionale aanlyn dramakompetisie wat ondersteun word deur die ATKV Tjokkertoneel en deur bekende akteurs beoordeel word. Ek het vir beide Afrikaans en Engels Voordrag die topprestasie behaal en neem binnekort deel aan die nasionale finale rondte via Zoom – ‘n eerste keer vir my.
“Ek het ook my eie gedigte ingeskryf in die kategorie Graad 4–7 en het Goud vir beide behaal. Ek het vir Radikale Redenaars ingeskryf en het vir Afrikaans en Engels Lees beide ‘n A+ ontvang. Daar is nog baie ander kompetisies waaraan ek wil deelneem. Om so op Zoom-opnames te werk is nog vir my ‘n baie nuwe ervaring en dit maak my nogal senuweeagtig,” het die Graad 4-leerder vertel.

Hy neem sedert Graad RR aan verskeie kompetisies deel en is baie trots en dankbaar dat Ram vir hom ‘n Ambassadeurs-toekenning gegee het.
“Ek het nog altyd daarvan gehou om te praat en op te tree; my ouma sê ek aard na Mamma. Dit wat ek die meeste geniet is om te praat en my standpunt oor te dra. Dis ook baie lekker om op te tree en so ‘n bietjie laf te wees en lekker te lag.
Dis vir my makliker om voor ‘n gehoor op te tree as om ‘n opname te maak. Ek dink praat[vermoë] is ‘n baie belangrike eienskap.”
Hy hou van stories skryf en is baie lief vir diere. Hy geniet dit ook om boog te skiet en speel graag Fortnite saam met sy vriende, maar sy nuutste stokperdjie is kodering. Wanneer Sebastian homself nie met sy stokperdjies besig hou nie is hy agter sy skoolboeke.
“Ek is tans eerste in die top 10 akademie vir Graad 4, en ek is baie bly om terug by die skool te kan wees. Dit voel vreemd; die sanitering maak mens se hande sensitief en seer, maar dis wonderlik om my maats te sien en ek voel veilig, want ons skool doen alles om ons veilig te hou.

“Terwyl ons so baie tyd by die huis spandeer, hou ons graag konsert en maak ons eie snaakse opnames wat ons so onder die familie deel. My mamma en my ouma maak altyd tyd vir pret en ek stem saam met hulle dat jy dit moet doen waarvan jy hou en moet volhou, en altyd jou beste gee met of sonder erkenning, want dit gaan oor die bou van jou karakter. Al hierdie lekker opnames en dié vir die kompetisies laat ons lekker vergeet van die virus wat ons almal se gedagtes oorheers,” het hy gesê.
Sy ma en pa is ongelooflik trots op hoe hard Sebastian werk en ondersteun hom altyd 100 persent.
“My mamma en pappa se grootste prioriteit is dat ek en boetie gelukkig moet wees. Hulle sê altyd hulle grootste trots is as ons gelukkig is in dit wat ons doen.”




