Die skoolleiers van Laerskool Randfontein het op Dinsdag, 20 Oktober vir juffrou Marietjie van Vuren met ‘n verbyry-afskeid verras toe sy na 28 jaar as onderwyser by dié skool afgetree het.
Chantel Smyth, hooforganiseerder het vertel dat juffrou Marietjie aan die einde van April sou aftree, maar met die inperking wat so skielik gekom het, het sy nooit die geleentheid gehad om terug te keer skool toe nie.
“Die leiers het nie ‘n geleentheid gehad om vir haar ‘n afskeid te hou nie, daarom wou ons baie graag iets doen sodat sy weet hulle gaan haar baie mis en dat haar plek by die skool leeg is,” het Chantel verduidelik.
Sy het vertel dat juffrou Marietjie die Graad 7’s se leiervoog en ook soos hul ‘mamma’ by die skool was. Sy het altyd seker gemaak dat die leiers weet wat om te doen, waar om te gaan en dat hulle reg lyk.
“Sy het ook vir hulle almal in Graad 4 skoolgehou, dus stap hulle al ‘n lang pad saam.”
Chantel het vertel dat toe die inperking na Vlak 1 skuif, hulle besluit het dat dit ‘n goeie tyd sou wees om iets te doen. Dit kon egter nie ‘n tradisionele afskeid wees nie, daarom het hulle die verbyry-afskeid gehou.
Leerders het die Dinsdag na skool ‘n draai by Marietjie se huis gaan maak om vir haar hulle geskenkies te gee en te groet.



