Die Herald het onlangs met Riekie Gerber, die ma van ‘n dogter met ‘n leergestremdheid gesels.
Christé-Marie Gerber, 19, is in 2007 met outisme gediagnoseer. Sy word as ‘n hoogs funksionerende outistiese persoon beskou.
Riekie het vertel dat Christé-Marie ‘n besonder soet baba was en dat sy al haar mylpale soos ander kinders bereik het tot sy omtrent twee jaar oud was.
“Sy het ‘n week lank net voor haar uitgestaar. Ek was bekommerd en het haar pediater toe geneem maar hulle kon fisies niks fout vind nie.”
Riekie het vertel dat Christè-Marie van toe af min gepraat het en as sy het, het sy net gebabbel en kon jy nie uitmaak wat sy sê nie.
“Ek het haar na ‘n arbeidsterapeut geneem en daar het ons uitgevind dat Christè-Marie sensories sensitief is, wat beteken dat sy smaak-, tas-, gehoor- en ligsensitief is.”
Riekie het vertel dat haar dogter dadelik met spraak- en arbeidsterapie begin het.
Sy het verduidelik dat dit baie moeilik is om ‘n leergestremdheid in ‘n neutedop te beskryf omdat soveel faktore ‘n rol speel.
“Sodra jy sien dat jou kind sekere mylpale later as die gemiddelde kind bereik en nie vorder soos verwag word nie, byvoorbeeld hul taal of konsentrasie, is die kind dalk leergestremd.”
Daar is heelwat wanpersepsies oor kinders met leergestremdhede, soos dat hulle nie oor dieselfde verstandelike vermoëns beskik as ander kinders nie, of dat hulle nooit hul volle potensiaal kan kan bereik sonder dat dit ‘n struikelblok is nie.
“Die belangrikste is om onderwysers in te lig oor jou kind se toestand en saam met hulle te werk eerder as teen hulle,” het sy vertel. Bou ‘n goeie verhouding met die onderwysers, want hulle gaan ook jou hulp nodig hê.
Christé-Marie sien nie haar outisme as ‘n gestremdheid nie, eerder as iets positief, want sy het geleer om harder te werk. Riekie was al verbaas oor haar dogter se selfdissipline en verantwoordelikheidsin.
“As ouer is dit die belangrikste om te erken dat daar moontlik ‘n probleem is, en as daar ‘n diagnose gemaak word, dit te aanvaar en vrede daarmee te maak.”
Sy het ook vertel dat dit belangrik is om soveel inligting as moontlik oor jou kind se diagnose in te win en seker te maak dat jy dit verstaan.
“Ek het ons vriende, familie en nuwe kennisse ingelig oor haar diagnose, dus is daar nie geskinder of saggies gepraat dat iets met haar verkeerd is nie.”
Vir ‘n kind met ‘n leergestremdheid is roetine baie belangrik en dit moet gestruktureerd wees, omdat dit ‘n gevoel van geborgenheid en veiligheid by ‘n kind skep. Dit is belangrik dat ouers ingelig moet wees oor hul kind en sover as moontlik aansluit by ondersteuningsgroepe.
“Onthou, jou kind is nog steeds net ‘n kind.”
Riekie het vertel dat sy geleer het dat outisme ‘n bedekte seën is en sy staan nou nog verwonderd oor alles wat Christé-Marie vermag. Sy beplan nou om grafiese kuns te gaan studeer.
Ouers moet hul kinders gedurig prys, al is dit oor iets kleins, en om hulp te soek as hulle nie weet watter kant toe nie.
“Wees altyd konsekwent en onthou dat dissipline nou belangriker is as ooit, maar dit moet met liefde toegepas word.”
Sy raai enige ouer aan wat vermoed dat daar ‘n probleem is, om ‘n afspraak te maak by ‘n arbeidsterapeut, kindersielkundige of ‘n pediater. ‘n Ervare onderwyser kan ook genader word vir hulp.



