‘n Geliefde onderwyser van Hoërskool Riebeeckrand sê vaarwel na 40 jaar in die onderwys.
Corrie Meyer was tot en met haar aftrede op Maandag, 1 Maart 2021 ‘n EBW- en RTT-onderwyser by Riebeeckrand.
Sy het haar onderwysloopbaan in 1981 as Graad 2-onderwyser by Laerskool Rapportyer begin, waarna sy in 1982 na Hoërskool Westonaria toe is en daar Tik en Ekonomie tot 2003 onderrig het. In 2004 is Corrie na Laerskool Randfontein toe waar sy Natuurwetenskappe (NW) en Sosiale Wetenskap (SW) vir Graad 5 aangebied het. In 2005 het sy as EBW- en RTT-onderwyser by Hoërskool Riebeeckrand diens aanvaar waar sy tot haar aftrede skoolgehou het.
Corrie het vertel dat sy besluit het op onderwys as beroep omdat beroepskeuses baie beperk was toe sy jonk was.
“Ek het ook op onderwys besluit omdat meer as een onderwyser vir my navolgingswaardig was, ” het sy gesê.
Volgens Corrie is sy dankbaar vir die voorreg en tyd wat sy gehad het om ‘n positiewe vingerafdruk te kon laat op elke lewe wat by haar klaskamerdeur ingestap het, soos deur haar Skepper bepaal.
Dit is vir haar lekker om te sien en te hoor watter hoogtes oudleerders bereik.
Toe sy gevra is waarmee sy haar voortaan gaan besig hou, het sy vertel dat sy baie stokperdjies het, maar dat sy eers haar projekte gaan voltooi wat half gedoen is, en haar man met kantoorwerk gaan help.
“Ek gaan beslis nie ledig wees terwyl my kop so besig is nie.”
Haar boodskap aan die gemeenskap en skool kom na aanleiding van Rut 2:19 waar Naomi vir Rut vra, “Waar het jy vandag are opgetel?” want, het Corrie gesê, “Elkeen van ons is elke dag besig om are op te tel op die akker wat die Here vir ons voorberei het.”
Corrie glo dat almal ‘n verantwoordelikheid het om te prioritiseer en te sorg dat hul verhouding met hul Skepper nie afgeskeep word nie, en dat almal hul aardse verantwoordelikheid teenoor hul gesin moet nakom.



