Hoërskool Riebeeckrand se beheerliggaam het ‘n verklaring uitgereik rakende die onlangse video wat die gemeenskap aan die gons het.
Alex Wray, die voorsitter van Hoërskool Riebeeckrand se beheerliggaam het gesê die skool het onderhoude gevoer met al die betrokke leerders en daar word opgetree volgens die Gedragskode van die skool en leerders.
Lees oorspronklike artikel hier: KYK: Stappe volg na ontstellende video van plaaslike leerders
“Die Onderwysdepartement het die skool besoek en aangedui dat hulle baie tevrede is met die wyse waarop die aangeleentheid hanteer word. Dit is belangrik om daarop te let dat die beheerliggaam ook betrek is by die ondersoek van die saak,” het Wray verduidelik.
Hy het vertel dat die voorval uit verband geruk is en dat die hele voorval nie op video geneem en geplaas is nie. Hy het ook bygevoeg dat dit geensins ‘n ernstige geveg tussen die twee leerders was nie, dat die betrokke leerders steeds goeie vriende is, en dat daar geen kwade gevoelens is nie.
“Die indruk word geskep dat dit ‘n rasgedrewe kwessie is, maar die ondersoek dui daarop dat daar geen rassekwessie tussen die leerders is nie. Die leerders is steeds en was te alle tye goeie vriende.”
Wray het gewaarsku dat afknouery en bakleiery ten sterkste deur die skool afgekeur word en dat dit nie geduld sal word nie.
“Die neem van video’s en die plasing daarvan, wat die skool se beeld kan skaad en enige iemand te na kan kom, word streng verbied deur die Gedragskode van die skool. Leerders word gewaarsku dat daar te alle tye streng opgetree sal word teen sulke gedrag.”
Hy het verduidelik dat Hoërskool Riebeeckrand ‘n oopdeurbeleid het en ouers word versoek om eerder die skool te skakel indien daar navrae is rondom aangeleenthede en/ of voorvalle by die skool. Die plasing van die voorval op nasionale media benadeel nie net die leerders nie, maar die skool in sy geheel.
“Samewerking van ouers en leerders kan net die belange van die skool en die leerders bevorder aangesien Hoërskool Riebeeckrand glo in goeie waardes en dissipline. Die skool se leuse, naamlik ‘Geanker in Geloof’ spreek vanself, en samewerking van alle partye kan net die skool se leuse ondersteun.”
Hy het vertel dat dit Hoërskool Riebeeckrand se ywer is dat al die leerders na hul matriekjaar moet sê, “Alma Mater Riebeeckrand, ons is trots op jou”.



