Veels geluk met jou 90e, dr Dupper
Frans le Grange, te same met baie ander gemeenskapslede, wens dr Ockie Dupper 'n uitstekende 90 jaar op aarde.
Dr Ockie Dupper, wat steeds in Randfontein praktiseer, vier in Mei sy 90ste verjaarsdag.
• Lees ook: Gemeenskap wens bejaarde geluk met 100e verjaarsdag
Dr Ockie is in 1935 in Lichtenburg gebore en was die eerste sportman in Randfontein wat ’n totaal van 11 Comrades-marathons voltooi het.
Hy het in 1954 in aptekerswese begin studeer en het in 1960 oorgeskakel na mediese studies. In 1968 het hy as mediese dokter gekwalifiseer. Hy en die legendariese oud-Blou Bul-rugbyspeler Hansie Breewes het gereeld Loftus Versfeld besoek.
Randfontein ken dr Ockie sedert 1971, en volgens inwoner Frans le Grange is hy bekend as “almal se dokter.”
“As iemand van die Randfontein Atletiekklub ’n pyn of besering het, help hy dadelik om die atleet terug op die pad te kry. Hy sal jou selfs by jou huis kom inspuit om seker te maak jy kan gaan werk.
In 2023 het hy reeds 50 jaar as dokter by Life Robinson gewerk. Hy is ’n wonderlike mens en ’n toegewyde Christen,” het Frans vertel.
Frans het afgesluit met die woorde, “Baie seën en goeie gesondheid word hom toegewens op hierdie 90ste herdenking van sy geboortedag. Dr Dupper, ons salueer jou!”




