Kerk se kermis bring die gemeenskap bymekaar
As deel van hul fondsinsameling vir uitreike, het die EG Kerk Randfontein 'n suksevolle kermis gehou met talle vermaak.
Die EG Kerk Randfontein in Culemborg Park het onlangs hul jaarlikse fondsinsamelingskermis met groot sukses aangebied.
• Lees ook: EG Kerk Randfontein hou kermis vir een en almal
Veruschke Janse van Rensburg, een van die organiseerders, het vertel dat dit die tweede jaar is wat die kermis plaasvind.
Dit het alles begin as ’n projek om fondse vir die gemeente in te samel, sodat ons uitreike kan doen en op daardie manier die Koninkryk van God kan uitbrei,” het sy gesê.
Sy het ook genoem dat die feestelike atmosfeer, heerlike kos en die samesyn mense op ’n besonderse manier saambring.
“Ons gee aan die Here al die eer! Hy het op wonderbaarlike maniere voorsien, en ons kan met baie dankbare harte sê dat die kermis vanjaar nóg ’n groter sukses was as verlede jaar,” het Veruschke bygevoeg.

Verskeie stalletjies het alles van kos tot speletjies aangebied, en daar was lewendige vermaak deur plaaslike skoolkore en sanger Dewald Gouws. Die organiseerders het bestaan uit ds Riko en Yolandè Scholtz, Elize Erasmus en die leiers van die verskillende bedieninge in die gemeente.

“Ons wil graag baie dankie sê – eerstens aan die Here, want sonder Hom sou niks hiervan moontlik gewees het nie. En dan ook aan ons borge, elke persoon wat uitgestal het, vermaak verskaf het, ’n bydrae gelewer het, en aan die gemeenskap wat ons met soveel entoesiasme ondersteun het,” het sy gesê.
Ons staan in verwondering en sien uit daarna om in die toekoms nóg groter te gaan.”




