Local newsUpdate

‘Hospitale is bevoeg,’ sê departement – maar inwoners vertel ’n ander storie

Pa bevraagteken staatshospitale ná dogtertjie se dood – Gesondheidsdepartement weerlê bewerings van nalatigheid op die Wes-Rand.

Na die tragiese afsterwe van sy driejarige dogtertjie, Ella van Wyk, het ‘n pa die doeltreffendheid van staatshospitale en -klinieke bevraagteken.

Die Randfontein Herald het op 7 Julie berig oor Ella se dood op 11 Junie weens komplikasies ná mangelontsteking. Haar pa, Louis van Wyk, het sy kommer uitgespreek oor die staat van gesondheidsorg en glo dat nalatigheid tot haar dood gelei het.

• Lees die oorspronklike berig hier: Kleuter (3) se dood wek vrae oor nooddienste se reaksie

Verskeie inwoners het soortgelyke negatiewe ervarings op Facebook gedeel.

“Staatshospitale is net daar om dood te maak. Al daai mense wat daar werk, is net daar vir salarisse. Hulle het geen passie vir hul werk nie,” het Judy Barnard gesê.

Johan Lessing het opgemerk: “Nooddienste gebruik net ambulanse om oor stoptekens en rooi verkeersligte te ry, en ja, staatshospitale het al telkemale bewys personeel is net daar vir die geld. Dis hoekom mense by ‘n staatshospitaal inloop en dan in ‘n ‘bodybag’ uitgedra word.”

Stefane Koekemoer voel iets moet drasties gedoen word.

“Ek het my ma ook so verloor deur slegte verpleegsters en ‘n dokter. Dis nie lekker om iemand te verloor deur sulke nalatigheid in vrot hospitale nie.”

Die Herald het op 9 Julie die woordvoerder van die Wes-Randse departement van gesondheid, Nomagugu Hloma, genader oor die bewerings van gevaarlike toestande en verwaarlosing by staatshospitale en -klinieke.

Die gesondheidsdistrik is gevra of daar ‘n tekort aan mediese dienste is.

“Die Wes-Rand Distriksgesondheidsdienste stem nie saam met hierdie valse bewering nie. Die distrik bestaan uit 48 primêre gesondheidsorgklinieke, drie gemeenskapsgesondheidsentrums wat 24 uur per dag bedryf word, twee distrikshospitale, een streekhospitaal en een gespesialiseerde geestesgesondheidshospitaal. Daarbenewens is daar 16 mobiele klinieke wat 119 uitreikpunte bedien, veral in afgeleë landbougebiede. Hierdie fasiliteite en dienspunte verseker toegang tot beide primêre en sekondêre gesondheidsorgdienste regoor die distrik,” het Hloma gesê.

Op die vraag oor bewerings van verwaarlosing en gevaar by gesondheidsfasiliteite, het sy geantwoord dat dit ongegronde aantygings is wat weerlê moet word met bewyse. Sy het bygevoeg dat daar geen formele klagtes oor sulke toestande ontvang is nie.

Die gesondheidsdistrik is ook gevra of hulle inwoners se bekommernisse ernstig opneem en regstel.

“Ja, die gesondheidsdistrik neem alle gemeenskapsbekommernisse ernstig op. Gemeenskapslede en kliënte kan probleme direk by fasiliteite aanmeld. Elke klagte word ondersoek, waarna terugvoer aan die klaer gegee word tydens regstellingsvergaderings om oplossings te verseker,” het sy gesê.

Op navraag oor die beskikbaarheid van noodsaaklike dienste by sekere fasiliteite, het Hloma verklaar dat alle noodsaaklike dienste wel beskikbaar is.

Sy het ook uitgelig dat fasiliteite gereeld geassesseer word, insluitend:

• Jaarlikse inspeksies deur die Kantoor vir die Nakoming van Gesondheidsstandaarde
• Ideale Kliniek Realisering en Onderhoud-assesserings, twee keer per jaar
• Omgewingsgesondheidsinspeksies, twee keer per jaar of soos nodig

Oor die tekort aan personeel het Hloma gesê:

“Die distrik maak tans staat op die plasing van mediese internskappe, gemeenskapsdienswerkers en beurshouers vir verpleegkundiges en dokters. Personeelwerwing geskied tans deur die Departement van Gesondheid se sentraal bestuurde werwings- en keuringsprosesse.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button