Rammies het koppe vir besigheid
Daar was stalletjies met unieke produkte soos Harry Potter-skryfbehoeftes, ‘n tuisgemaakte kroekfiets en vele tuisgemaakte eetgoed.
Daar was lekker pret toe Laerskool Randfontein se Graad 7-leerders op Woensdag, 31 Augustus hul entrepreneursmark gehou het.
Skoolwoordvoerder Annie Nolan het vertel dat die Rammies gewys het dat hulle koppe vir besigheid het toe hulle elkeen ‘n produk en speletjie moes kies, beplan, bemark en uitvoer.

Die projek word bestuur deur EBW-vakonderwyser Hannes Muller wat die dag as ‘n reuse sukses beskryf het. Die stalletjies het gesorg vir vermaak vir oud en jonk en het smullekker kos, lekkers en prettige speletjies aangebied.
Daar was stalletjies met unieke produkte soos Harry Potter-skryfbehoeftes, ‘n tuisgemaakte fiets en vele tuisgemaakte eetgoed.

“Hierdie projek is nie net vir die broodnodige punte gedoen nie, maar natuurlik ook vir al die wins wat dit opgelewer het. Rammies het boonop vaardighede soos kommunikasie, bemarking, beplanning, begroting en bestuur baasgeraak.
Na die entrepreneursdag is al die nodige berekeninge gedoen en die wins het gestrek van R1 000 tot ‘n stewige R12 000,” het Annie vertel.
Sy het verduidelik dat spanwerk ook aangemoedig is aangesien die Rammies in groepe kon saamwerk.

“Die gees het hoog geloop en ouers, oumas, oupas, onderwysers en leerders het in die jolyt gedeel. Dit was duidelik dat die Graad 7-leerders besonderse entrepreneurs is, en die skool gaan met trots ‘n hele paar besigheidsmanne en -dames in die toekoms oplewer.”






