RAM-juffrou oor haar passie
Riekie Gerber is al vir 23 jaar in die onderwys en is tans 'n onderwyser by Laerskool Randfontein.
Daar word op Woensdag, 5 Oktober – Wêreld Onderwysdag – aan onderwysers regoor die wêreld erkenning gegee vir al hul harde werk. Die Herald het by Laerskool Randfontein met ‘n inspirerende onderwyser gaan gesels.
Riekie Gerber is reeds 23 jaar in die onderwys en is ‘n graad 7-onderwyser by Laerskool Randfontein waar sy al ongeveer 15 jaar werk.
Hoekom het sy die onderwys gekies? Sy het vertel dat sy dit ‘n gebedsaak gemaak het en glo die Here het vir haar gewys dat onderwys haar beroep is. Op hoërskool en in matriek het sy kinders gehelp wat sukkel op skool.
Wat vir my lekker is van onderwys is dat daar nie twee dae is wat dieselfde is nie. Jy weet nooit wat vir jou voorlê nie. Dit maak nie saak in watter bui jy skool toe kom nie; as jy hier stop, uit jou kar klim en jou goed klas toe dra en kinders sê vir jou ‘hallo juffrou hoe gaan dit?’ – dit maak my dag, en natuurlik as hulle so nou en dan goed vaar in hul toetse ook.”
Volgens Riekie was dit baie erg met die pandemie omdat hulle bekommerd was oor die kinders. “As jy skoolhou lees jy ‘n hele kind – sy of haar gesigsuitdrukking en lyftaal – en met die masker kon jy nie; dit was half soos ‘n versperring tussen jou en die kinders.”
Onderwysers kon ook nie vir ‘n kind wat ‘n moeilike dag beleef ‘n drukkie gee nie, en vir onderwysers is al daardie dinge belangrik.
“Dit is wonderlik om weer hul gesigte te kan sien maar hulle het ‘n knou weg van Covid. Daar is kinders wat steeds maskers dra want hulle is skaam en voel kaal sonder hul maskers.”
‘n Onderwyser moet na haar mening ‘n liefde vir kinders hê, en die onderwys moet nie ‘n werk wees waarop jy terugval omdat jy nie weet wat jy wil doen nie.
Dit moet ‘n roeping wees en dan moet jy jouself goed vergewis van jou vakke wat jy wil gee; dit moet iets wees waarin jy ook belangstel en jy moet georganiseerd wees. Jy kan ook nie voor ‘n klas gaan staan en nie voorbereid wees nie, jy moet aanpasbaar wees en jy moet geduld hê.”



