Gemeentelede wil dorp se skoolkinders help
Deur hul projek wil hulle vir die kinders skryfbehoeftes en benodighede vir die nuwe skooljaar insamel.
Twee lede van die AGS Groen Weivelde dra hul gemeente se kinders na aan die hart.
Chriselda van der Walt en Monja van Aswegen is albei organiseerders van hul projek genaamd ‘Seën die Kinders’ wat gemik is om kinders in hul gemeente te help met goedere vir die nuwe skooljaar.
“Kinders lê nog altyd na aan my hart en huidiglik is daar baie mense wat sukkel so ek het gevoel om in ons gemeente te begin, want saam as ‘n gemeente kan ons ‘n verskil in ander mense se lewens maak,” het Chriselda vertel.
Volgens Chriselda het sy al so ‘n projek in die verlede aangepak en volgens Monja gaan hul hierdie jaar groot gaan. Tans is daar 11 kinders wat hul beplan om te help en hul beplan ook om nog meer te help.
“As ‘n kind nie die goed het aan die begin van die jaar om skool te begin nie, hoe moet hy begin?”
“Om hierdie kinders te help is net ‘n druppel in die emmer, maar een verskil om een iemand te help maak ‘n groot verskil,” het Chriselda gesê.
Chriselda vertel dat die projek nie net vir Graad 1’s en Graad 8’s is nie, maar hulle beplan om vir die Graad 8-leerders nuwe uniforms te gee en alles wat hulle benodig.
“Ons glo daar gaan nog kinders bykom en ons glo ons projek gaan oorloop met meer as genoeg goedere.”
Hulle kort tans skrifte, skryfbehoeftes, tasse en pennesakkies vir die kinders.
“Ons kan altyd nog kinders inkry, dit gaan nie net oor ons gemeente se kinders nie en ons wil ook graag buite ons gemeente saai. Ek dink my hartsbegeerte is om daai kinders bietjie selfrespek te leer en om hul skooltoe te stuur met trots,” het Monja gesê.
Monja noem dat hul ook ander gemeentes en besighede wil nooi om betrokke te raak om die dorp se kinders te ondersteun.
Donasies kan by die kerk afgelaai word en reëlings kan ook gemaak word om donasies oplaai te laai.
Om te help, skakel vir Chriselda op 083 318 6063 of die AGS Groen Weivelde kerkkantoor by 076 695 0315.





