My lang lys van probleme in die dorp
Die stadsraad en munisipaliteit moet werkers aanstel wat bekwaam is en moet nie politieke aanstellings maak nie.
Wie is verantwoordelik vir die rolle opgerolde doringdraad voor die polisiestasie se woonstelblok en die mooi huis wat al vir jare leeg staan (Maughamweg)?
Dit lyk baie lelik. Dit dien geen doel nie omdat die hek tussen die woonstelle en die leë huis dag en nag oopstaan. Is dit om geld te mors?
Kan die Verkeersafdeling nie asseblief ‘n plan maak met die voertuie wat aan beide kante van Duncanweg (voor Shoprite) parkeer nie? Selfs polisievoertuie parkeer daar voor die drankwinkel.
Twee karre kan nie eers langs mekaar verbybeweeg nie. As daar ‘n groter voertuig, byvoorbeeld ‘n groot bakkie ry, is dit onmoontlik om bymekaar verby te kom. Daar is oral borde wat aandui dat voertuie nie daar mag parkeer nie. Nadat daar verlede jaar ‘n lagie teer oor die pad gegooi is, is die geel strepe aan die kante van die pad nog nie weer geverf nie.
Is die geld vir verf ook alles by die VBS-bank inbetaal? Seker ook die rede dat gate in die paaie nie aandag kry nie.
Die verkeerslig voor KFC by Tambotie Mall is al deur inwoners in die Herald genoem. Al weer die Verkeersdepartement??? In die rigting van die dorp af Randgate toe kan die groen lig aan linkerkant mos groen bly vir motors wat reguit wil aanry terwyl die regsdraaipyltjies flikker.
Is die Verkeersdepartement nie eers in staat om die verandering aan te bring nie? Is dit dalk weens onbekwame kaders?
Die munisipaliteit moet werkers aanstel wat bekwaam is en moet nie politieke aanstellings doen nie.
Die werkers moet nie eers weet aan watter politieke party hul kollegas behoort nie. Voorbeeld: Onderwysers word aangestel volgens hulle kwalifikasies. Politiek speel nie ‘n rol in die aanstellings by die meeste staatskole nie.



