Opinion

Ek het wel hoop vir ons ‘gebroke’ SA

Dit gaan nie meer oor wit, swart of bruin nie! Dit gaan oor ons land en of ons 'n goeie fondasie lê vir die volgende generasie.

• Lovelace Mathysen skryf:

Prentjies op TV en sosiale media is so hartseer om te aanskou. Wat het ons verkeerd gedoen?

Kenners het seker ‘n antwoord op hierdie vraag. Het ons ‘n samelewing geword wat afbreek, plunder en vernietig om te kry wat ons will hê? Meer ontvang as wat ons gee? Geen respek vir gesag en wette van ons land?

‘n Man het destyds gesê, “Dis nie wat jou land vir jou kan doen nie, dis eerder wat jy vir jou land kan doen …”.

Verkies ons eerder om die ryk, pragtige land SA af te breek met elke kans wat ons kry? Wanneer gaan dit stop? Seker wanneer daar niks oor is om van te lewe nie. Let op hoe gaan dit eerder oor plunder en vernietiging van eiendom, as wat dit gaan oor veg vir jou reg om te kan oorleef.

Vir wie blameer ons nou? Is dit die mense wat besluit om in groepe verwoesting te saai, te roof en te moor in die naam van vryheid en gelykheid? Of is dit dié wat dag vir dag die land kaal steel, opmors en vernietig, stukkie vir stukkie? Ek glo stellig beide is skuldig daaraan.

Die skade is so groot, maar dit kan heel moontlik gered word as elkeen sy tekortkominge en foute erken en gewillig is om dit te herstel. Die groot prentjie raak sien, nie die stories glo van die gulsige persone in ons midde nie, maar saamstaan en ‘n gebroke samelewing herbou. Die Suid-Afrikaner in my sê dit is moontlik, alhoewel die dade van mense my skepties laat voel. Ek het hoop.

Ons sal nie ‘n burgeroorlog oorleef nie, maar dis waarheen ons afstuur, glo my. Die man op die agtergrond is besig om speletjies met die kwesbares te speel. Dis tyd om ons oë oop te maak en hul planne in die wiele te ry, of selfs van die hand te wys. Dis net nie die moeite werd om alles op te gee vir niks nie. Daar is belangriker dinge in die lewe as om in weelde te leef, ten koste van ander. Ons vernietig onsself in die proses, en ons ontneem ons kinders wat hulle toekom, naamlik die reg om te kan lewe …

Dit gaan nie meer oor wit, swart of bruin nie! Dit gaan oor ons land en of ons ‘n goeie fondasie lê vir die volgende generasie sodat hulle genoeg het om van te lewe, ‘n dak oor hul koppe en ‘n werkie wat hulle in staat sal stel om hulself te kan verbeter. Dit is ons verantwoordelikheid om ‘n gees van samesyn te ontwikkel in die harte van die kinders. Hulle is tog die toekoms. Is tyd om beter beelde op TV te sien en goeie stories in die nuusblaaie te lees. Die tyd is nou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button