Waterkrisis: Skrik wakker, mense!
Ons sit met 'n waterkrisis en mense is blykbaar onbewus van hoe erg dit regtig is.
Plaas asb die volgende brief sodat die mense kan wakker skrik.
Mense asb, daar is streng waterbeperkings in plek in Gauteng en dit geld vir ‘n ieder en ‘n elk van ons.
Ons sit met ‘n waterkrisis en mense is blykbaar onbewus van hoe erg dit regtig is. Lees mense ooit die koerante? Kyk hulle ooit na die nuus, of weet hulle nie van die droogte wat die land tans beleef nie?
Dit is ongelooflik om te sien hoe mense hul tuine met tuinslange natgooi en hulle motors met Kärcher-masjiene was! Wat verstaan hierdie mense nie?
As hulle eendag die kraan oopdraai en daar kom geen water uit nie, sal hulle dalk besef dis te laat om te huil. Elke keer wat hulle hul motors met Kärcher-masjiene was, moet hulle dalk aan die arme boere dink wat elke dag hulle lammers voor hul oë sien doodgaan as gevolg van die droogte, asook aan die graan- en mielieboere wat geen water het om hul lande te besproei nie.
Kan mense regtig so selfsugtig wees net omdat hulle wel die water kan bekostig, of hou hulle hulself blind omdat hulle onopgevoed is wat die land se waterkrisis betref?
Kan die Herald asseblief weekliks ‘n berig plaas oor die stand van die damme sodat mense op hoogte gehou kan word. Dis ernstig en dit raak ons almal. Elke mens het ‘n plig om sy of haar deel by te dra.
Dankie vir ‘n puik koerant;, doen so voort.



