Pretoria-Noord in rou oor dood van bekende gr.9-leerling
Die tragiese afsterwe van die geliefde "tee-outjie," Wessel Lourens, het Pretoria-Noord diep geraak en sy skool wat intussen bewerings van boelie teen Wessel weerlê.
Die gemeenskap van Pretoria-Noord is geskok en in rou gedompel na die skielike afsterwe van gr.9-leerling, Wessel Lourens, wat op sosiale media bekendheid verwerf het as die “tee-outjie.”
Terselfdertyd het bewerings van boeliegedrag op sosiale media vlam gevat, maar die Hoërskool Wonderboom het die aantygings daadwerklik aangespreek en ontken.
Wessel het 8 379 volgelinge op dié platform en van sy video’s is derduisende kere gekyk, een van sy video meer as as 600 000 keer.
Die skool het Vrydag op sy Facebookblad ‘n inskrywing geplaas om bekend te maak dat Wessel die vorige aand oorlede is.
Die oorsaak van sy dood is nog nie bevestig nie.
Luidens die skool se inskrywing Vrydag was Wessel bekend vir sy sagmoedige gees, warm glimlad en die kosbare vriendskappe wat hy in ons skoolgemeenskap gebou het.
“Dit gaan vir ons moeilik wees om afskeid te neem van Wessel. Rus in vrede, ou maat. Ons gaan jou mis,” lui die inskrywing.
Die skool het ook sy medelye met Wessel se familie en vriende betuig.
Intussen het bewerings van boelie teen Wessel het die afgelope naweek op sosiale media vlam gevat, en die skool het die aantygings dadelik aangespreek.
Die Hoërskool Wonderboom het in ‘n verklaring gesê hulle is ‘n skool wat streef daarna om elke leerder te ondersteun.
“Ons het ‘n professioneel- gekwalifiseerde berader wat sedert die begin van die jaar ‘n pad met Wessel gestap het. Die intervensies wat die berader gevolg het, was nie gekoppel aan boelie gedrag nie en die aard daarvan was konfidensieel.”
Hulle het bygevoeg dat volgens Wessel se ma, die berader en die graadhoof wat met hom gewerk het, het dit besonder goed met hom gegaan en hy was die afgelope maande meer gelukkig as wat hulle hom die hele jaar gesien het.
Wessel se skoolbywoning bevestig dit ook. Hy was gedurende kwartaal een en twee 18 dae afwesig, slegs twee dae in kwartaal drie en glad nie afwesig vir die hele kwartaal vier nie. Wessel het ‘n baie oulike ondersteunende groep maats gehad saam met wie hy sy deurgaans beweeg het.
“Niks aan Wessel se gedrag het enigsins ‘n aanduiding gegee dat hy nie by die skool wou wees nie. Selfs sy akademiese prestasie gedurende die afgelope eksamens was goed en hy het meer as 60% gemiddeld in die eksamen bejaal, ‘n drastiese verbetering van die 20% van kwartaal een af.
“Dit is vir ons baie hartseer dat hierdie tragiese situasie uitgebuit word deur individue wat monetêre voordeel daaruit kan trek deur dit te gebruik om meer volgelinge te trek.”
Die skool het ook gesê hulle beskik oor ‘n goedgekeurde boeliebeleid en tree volgens dit op.
“Ons is nie blind daarvoor dat leerders lelik kan wees met mekaar nie, maar ons het ‘n deernisvolle span mense wat ons kinders ondersteun en ons tree op teen leerders wat ander kinders teister.
“Ons vra dat mense liefs vir Wessel se geliefdes in gebed aan ons Hemelse Vader opdra as om sensasie te maak uit hierdie smartvolle tyd waarin hulle is.”
Lees ook: Vroue-Landbou Unie help brandbestryders met bydrae
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
